Tag Archive | leer

Groot liefdes

Photo0061

Ek het groot liefdes in my lewe. Nee, ek praat nou nie van mense nie, want hulle beslaan ʼn hele huis op hul eie. Ek praat nou van ander dinge waarsonder ek nie kan lewe nie. Dinge wat my so verryk en so diep raak dat ek net ʼn halwe mens sou wees daarsonder.

Een so ʼn liefde is die natuur. Daar is intelligensie daar. Om dit daagliks te sien en getuie te wees daarvan is ʼn wonder op sigself. Geen mens vertel vir die lobelias om pers te blom nie, dis in hul aard om dit te doen. Geen mens vertel vir die vinke om kwetterend nes te bou in die boom voor my venster nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. En buitendien is dit lente – die tyd van die liefde. Niemand wys vir die varing hoe om nuwe blare oop te rol en te vermeerder nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. Die oënskynlik dooie boomstomp spruit na baie maande, of selfs jare, skielik uit. Teer, groen uitloopsels verskyn uit die donker bas – dis in sy aard om herbore te word, eindeloos soos die seisoene, oor en oor.

Net so is dit in my aard om deel te wees van die natuur se skeppingsproses. Net so is ek verbind aan die naelstring wat alles bymekaar hou en saam laat werk sonder enige instruksie, want dis in my aard.

O, dan is daar my liefde vir musiek. Het jy al met jou hart geluister na musiek wat jou uit jou self uit lig en jou neem na ʼn plek waar daar net klank is? Lieflike klank wat geen eise aan jou stel nie, behalwe net om te voel hoe jou hele wese oorgeneem en gevul word, tot net die musiek bestaan. Dis vir my die hemel, hierdie oomblikke teen skemer met die deure wyd oop en die musiek wat daaruit oor die tuin spoel. Ek bestaan dan nie. Ek raak geheel weg tot ek later, as dit stil word, net die aand se geluide hoor. Eers dan weet ek ek is nog hier in liggaam.

Boeke. Sonder boeke en woorde en wysheid kan ek nie. Ek word telkens verkwik na siel en liggaam deur ʼn mooi boek, of ʼn gedig wat fyn geweef is met woorde. Ek sou baie armer gewees het as dit nie vir boeke was wat my ledige ure en soms dae gevul het nie. Wat ʼn seën is ʼn goeie boek wat uit die hart geskryf is; wat ten doel het om vreugde te verskaf aan elke leser. ʼn Goeie boek is nie kieskeurig nie. Hy is daar vir die hande wat hom wil optel en oopmaak. Hy dwing niemand nie. Maar as jy kies om hom oop te slaan en jouself aan die woorde en die storie oor te gee, is jy verryk teen die einde. En wil jy meer hê. ʼn Onversadigbare honger is my liefde vir boeke.

Sonder stilte en rustigheid kan ek nie. Stilte krap nie die gees om nie en skraap jou nie rou nie. Ek is altyd oneindig dankbaar as ek van ʼn inkopietog af terugkeer na my huis. Na die stilte, die kalmte en die rustigheid. Dis my hawe. Dis waar ek geanker word deur my tuin, my musiek en my stilte.

Elkeen moet so ʼn plek hê. Waar jy net kan wees en kan word.

Ja, daar is meer as net hierdie paar groot liefdes vir my. Soos goeie, intelligente geselskap en goeie kos. Maar dit sal ook weer nog ‘n hele bladsy op sy eie nodig kry. Kom ons los dit vir later.

Die voorbereiding van jou boek vir die uitgee daarvan

Pippas well canstockphoto4393745

Jou manuskrip is gepoets tot hy blink en nou is jy gereed vir die volgende stap.  Besluit of jy die boek gaan laat druk, want dan moet die uitleg gedoen word. Ek kan Boutique Books aanbeveel hiervoor en jy kan hulle vind by http://www.boutiquebooks.co.za/. Hulle kan ook jou boek professioneel laat redigeer, jou voorblad ontwerp en dit omsit in e-boek vorm, maar dit gaan jou geld kos.

Vir e-boeke is dit makliker. Hier is die stappe wat jy moet volg:

  1. Verkry ʼn e-ISBN nommer by die Nasionale Biblioteek.
  2. Jou manuskrip is ʼn MS Word dokument, getik in Times New Roman .12
  3. Voor in die boek moet die titelblad verskyn
  1. Die volgende bladsy moet daarop volg: (Sien die voorbeeld hier onder)

© Jou naam 2015

DIE NAAM VAN DIE BOEK

eISBN nommer

Uitgegee deur ……… (sit jou naam hier in as uitgewer)

Jou posadres

jou e-pos adres

jou webwerf adres

Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag sonder die skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm deur elektroniese of meganiese middel weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, skryf- of bandopname, of deur enige ander stelsel vir inligtingsbewaring en –ontsluiting.

  1. Dis altyd goed om ʼn kort beskrywing van jou storie voor in die boek te plaas, want by sommige boekwinkels kan jy deur die e-boek blaai (Amazon.com) en dan kan die leser ʼn idee kry van waaroor jou storie gaan.
  2. As jy reeds ander boeke geskryf het, kan jy dit heel agter in die manuskrip noem en ook waar dit verkrygbaar is.
  3. Verander jou manuskrip na A5 grootte
  4. Kry vir jou ʼn voorblad – ʼn gewone selfoonfoto nie gaan werk nie. Jy kan jou voorblad op Amazon.com ontwerp of op Canva.com. Onthou jou voorblad is die eerste ding waarna ʼn leser kyk en dan gaan hul na die kort beskrywing of die agterblad om te sien waaroor jou storie gaan.
  5. Skryf jou agterblad teks. Ek gebruik die sogenaamde “elevator pitch”. Jy moet in die tyd wat ʼn hysbak van bo tot onder ry, kan vertel waaroor jou boek gaan. Dit werk min of meer so:

Wie is jou heldin en wat doen sy (beroep). Toe gebeur die volgende, en nou . . .

  1. Jy het nou jou voorblad, jy het jou kort beskrywing, jy het jou manuskrip in die regte grootte. Jy is nou gereed om jou boek self op Amazon.com te laai, want jy het reeds voorheen gaan kyk hoe werk hul Kindle Direct Publishing. Jy het geregistreer as verkoper en jy verstaan die konsep van bemarking deur Amazon.com.
  2. Jy is Afrikaanssprekend en wil liewer jou boeke in Suid-Afrika ook bemark. Jy kan die boek op die rakke kry deur die volgende verspreiders te gebruik:
    1. Andre Beukes by http://myafrikraans.com
    2. Anita Stander by http://www.kwartsbookstore.co.za
    3. Christine Stuart by http://ereads.co.za
    4. Hulle het almal hulle eie reëls, maar hul plaas jou boek op hul eie webblad en versprei dit ook na boekwinkels. Jou e-boek is nou by die verspreiders en op pad na die winkelrakke.

Volgende week gesels ons oor Bemarking. Gaan kyk gerus by http://rachelledubois.com vir meer inligting.

Die vreugde van 2014: ek het probeer

images[8]

Hierdie jaar was ʼn besonder bedrywige, maar baie suksesvolle jaar vir my. In alle opsigte is daar voldoen aan elke behoefte. Elke versugting en begeerte wat ek uitgespreek het, elke wens is vervul.

Ek kan dit maar net toeskryf aan die feit dat ek doen waarvoor ek hier is. Dit wat ek veronderstel is om te doen, is om te skryf. Dit is my lewensdoel en waarvoor ek bestem is.

Ek het eers werklik begin leef toe ek hierdie waarheid begryp. Want hierdie besef het gekom saam met die wete dat ek eers regtig lééf as ek besig is om te skryf. Dis al wat ek wou doen, en as ek daarmee besig is, bestaan niks anders vir my nie. Die storie vloei uit my uit soos ʼn rivier en dis met verwondering dat ek nou net voor Kersfees terugsit en besef ek het hierdie jaar 10 boeke gepubliseer – agt het ek self uitgegee, en twee is deur Kwarts Uitgewers op die groot boekwinkels se webwerwe versprei.

Voldoen al my stories aan die groot geeste se vereistes? Nee, by verre nie, maar ek moes iewers begin, en vandag het ek meer geleer en gelees as wat ek ooit gedink het ek sal doen. Maar ek wou, en ek het.

Dis heerlik, dis wonderlik en ek loop op lig!

My doel is om deur my skryfwerk en my boeke inspirasie, wysheid en vreugde te bring. Om die lag in die dag te sit, om die mooi uit te wys, om elke oomblik se romanse bewustelik aan te gryp. Want die lewe is vol van romanse – dis nie net in die lyflike nie, maar ook in die hart. Waar daar liefde is, is daar lewe, is daar romanse.

Gaan doen wat jou hart vir jou sê om te doen. Wat is jou begeerte? Wat is die een ding wat jy bo alles begeer om te doen? Moenie sê: “ek kan nie, want…” Vergeet van ek kan nie. Vra liewer: “hoe kan ek dit doen?” Begin dan met die einddoel. Waarheen mik jy? Skryf dit neer en staan terug. Begin dan jou pad beplan met die eerste treë, dan die volgende, en die volgende wat jy moet gee om daar te kom.

Word soos water – vloei om die hindernisse op jou pad. Vind ʼn weg bo-oor of daarom, maar moet nooit fokus verloor nie. Jy sal dalk ʼn ander roete volg, maar jou einddoel bly dieselfde. Word stil en wag vir wysheid en inspirasie. Gaan sit stil, maak jou oë toe en vra: hoe moet ek hier maak? Jy sal verbaas wees oor die antwoord wat spontaan vir jou gegee word. Treë vir treë sal jou pad vir jou oop gaan – mits jy doen wat jou hart vir jou sê. Dit gebeur as jy jou lewensdoel vervul.

Doen dit. Die keuse is joune. Die vrugte daarvan is meer as waarvan jy ooit kon droom.