Tag Archive | lees

Die blywende vreugde

Pearls canstockphoto6111406

Daar is min wat vergelyk met die gevoel van diep bevrediging as mens iets gedoen het wat aan jou vreugde en genoegdoening verskaf. Dink nou maar aan ’n goeie boek. Daardie sug van behaaglikheid as mens die laaste bladsy lees; die laaste paragraaf; die laaste sin. Dan blaai jy eers weer terug na die stukke wat jy gemerk het om weer te lees. Dit is soos reën op droë grond, soos dou in die oggend, soos wind wat deur jou waai en jou verfris na ’n lang dag se hitte.

Ek het saam met die karakters van Nicholas Sparks deur hul wonderlike lewens gestap. As leser het ek stil geword by die beskrywings van die natuur, die agtergrondsketse, die intense gevoelvolheid waarmee hierdie skrywer sy karakters in sy verhale in weef. Ek het soms onwillekeurig my oë gesluit om te voel en te sien wat hy beskryf. Die prentjies is so duidelik asof ek self daar was, in die verhaal op daardie tydstip.

Dit is ʼn kuns om die konteks en die omgewing waarbinne jou verhaal afspeel so te beskryf dat die leser dit in sy verbeelding kan sien en ervaar. Dit is ook iets wat heel dikwels afgeskeep word. Niemand bestaan tog in ʼn vakuum nie. Daar is altyd ʼn plek, ʼn omgewing, ʼn huis of blyplek, ʼn straat, ʼn beroep wat beskryf moet word. Daar is die natuur, die wind en die weer. Al hierdie dinge gee vleis aan jou storie en help die leser om die karakters in die konteks te plaas waar die verhaal hom afspeel.

Ek het geleer om met my hart en my sintuie te skryf, en te lees. Daar is geen ander manier nie.

Rachelle

 

Advertisements

Groot liefdes

Photo0061

Ek het groot liefdes in my lewe. Nee, ek praat nou nie van mense nie, want hulle beslaan ʼn hele huis op hul eie. Ek praat nou van ander dinge waarsonder ek nie kan lewe nie. Dinge wat my so verryk en so diep raak dat ek net ʼn halwe mens sou wees daarsonder.

Een so ʼn liefde is die natuur. Daar is intelligensie daar. Om dit daagliks te sien en getuie te wees daarvan is ʼn wonder op sigself. Geen mens vertel vir die lobelias om pers te blom nie, dis in hul aard om dit te doen. Geen mens vertel vir die vinke om kwetterend nes te bou in die boom voor my venster nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. En buitendien is dit lente – die tyd van die liefde. Niemand wys vir die varing hoe om nuwe blare oop te rol en te vermeerder nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. Die oënskynlik dooie boomstomp spruit na baie maande, of selfs jare, skielik uit. Teer, groen uitloopsels verskyn uit die donker bas – dis in sy aard om herbore te word, eindeloos soos die seisoene, oor en oor.

Net so is dit in my aard om deel te wees van die natuur se skeppingsproses. Net so is ek verbind aan die naelstring wat alles bymekaar hou en saam laat werk sonder enige instruksie, want dis in my aard.

O, dan is daar my liefde vir musiek. Het jy al met jou hart geluister na musiek wat jou uit jou self uit lig en jou neem na ʼn plek waar daar net klank is? Lieflike klank wat geen eise aan jou stel nie, behalwe net om te voel hoe jou hele wese oorgeneem en gevul word, tot net die musiek bestaan. Dis vir my die hemel, hierdie oomblikke teen skemer met die deure wyd oop en die musiek wat daaruit oor die tuin spoel. Ek bestaan dan nie. Ek raak geheel weg tot ek later, as dit stil word, net die aand se geluide hoor. Eers dan weet ek ek is nog hier in liggaam.

Boeke. Sonder boeke en woorde en wysheid kan ek nie. Ek word telkens verkwik na siel en liggaam deur ʼn mooi boek, of ʼn gedig wat fyn geweef is met woorde. Ek sou baie armer gewees het as dit nie vir boeke was wat my ledige ure en soms dae gevul het nie. Wat ʼn seën is ʼn goeie boek wat uit die hart geskryf is; wat ten doel het om vreugde te verskaf aan elke leser. ʼn Goeie boek is nie kieskeurig nie. Hy is daar vir die hande wat hom wil optel en oopmaak. Hy dwing niemand nie. Maar as jy kies om hom oop te slaan en jouself aan die woorde en die storie oor te gee, is jy verryk teen die einde. En wil jy meer hê. ʼn Onversadigbare honger is my liefde vir boeke.

Sonder stilte en rustigheid kan ek nie. Stilte krap nie die gees om nie en skraap jou nie rou nie. Ek is altyd oneindig dankbaar as ek van ʼn inkopietog af terugkeer na my huis. Na die stilte, die kalmte en die rustigheid. Dis my hawe. Dis waar ek geanker word deur my tuin, my musiek en my stilte.

Elkeen moet so ʼn plek hê. Waar jy net kan wees en kan word.

Ja, daar is meer as net hierdie paar groot liefdes vir my. Soos goeie, intelligente geselskap en goeie kos. Maar dit sal ook weer nog ‘n hele bladsy op sy eie nodig kry. Kom ons los dit vir later.

Verandering

Maalkolk Amason 8Mar2015 4172cf27-6692-48a5-b5cf-9cf7fa459ee6[1]

Iemand sê nou die dag vir my dat ons nie ander uitkomste kan verwag as ons dieselfde dinge oor en oor doen nie. Ons moet anders dink en doen as ons ʼn ander resultaat verwag. Toe skraap ek my moed bymekaar en besluit dis nou of nooit. Hier moet verandering kom.

ʼn Skrywer se eerste pennevrugte is mos maar teer plantjies wat gekoester en vertroetel wil word. En hulle sit so lekker in die hart, so gereed om uitgehaal en bekyk te word met groot genoegdoening. Maar mettertyd kom mens agter hulle dra nie vrugte nie. Hulle boodskap roep nie hard genoeg nie, verbygangers vertoef nie onder hul skadu nie. En toe wonder ek oor die onvrugbare vyeboom… Is dit nou my beurt om byl in te lê en af te kap? Of sal ek net bietjie snoei? Ek besluit om by ʼn punt begin, dalk maar net eers bolangs regmaak, wilde lote snoei en die klein jakkalsies uit die wingerd kry.

Om die groeiproses aan te help, begin ek by die skryf van beter loktekste en ek gaan boekomslae verander waar dit nodig is.

Hou dus maar hierdie spasie dop vir die mooiste omslae en ‘n kort beskrywing wat jou regop gaan laat sit. Ja, dit sal ‘n tydjie neem, maar ek sal een vir een kosbare storie vat en dit nuut vir jou aanbied tot jy dit nie meer kan uithou nie. Jy sal jou nuuskierigheid nie kan bedwing nie en jy sal moet gaan kyk wat is binne-in.

Vreugde en voorreg

1511113_343984505793399_2733669308550766839_n[1]

Dit is die jaar 1845, en ek en my kleindogter is op ʼn dolle vaart agter ʼn sexy Franse seerower en ʼn pragtige jong Engelse edelvrou aan. Ons oorleef ʼn storm op die Engelse kanaal op die skip La tempete (Die Storm) van Jean le Veque, monsieur die seerower. Hy glo die pragtige Améli du Pré het iets in haar besit wat aan sy familie behoort en hy wil dit terug hê…

Ons het nou uitgespoel op die eiland Guernsey en hou asem op, want behalwe Améli en Jean is daar nog ʼn teenwoordigheid op die eiland. Iemand waarvan hulle nie bewus was voor die kosbare skat verdwyn het nie…

As ek sê dat dit die prettigste en mees vreugdevolle projek is waaraan ek nog gewerk het, jok ek nie. Ek en my meisiekind werk saam aan elke toneel en giggel soms onbedaarlik vir al die gedoentes van die twee jongmense. En natuurlik is daar die onweerstaanbare aantrekkingskrag wat die twee vir mekaar het en die fyn voetwerk om dit nie te wys nie.

Ek kan nie sê wat volgende gaan gebeur nie, maar hou maar die spasie dop vir wanneer die twee hul buiging gaan maak in Monsieur die Seerower, Romanse vir tieners.

Ek hoop hierdie boek sal by die lees daarvan net soveel genot verskaf aan jou tieners en jou tienerkleinkinders soos dit vir ons was om dit te skryf. Ek glo dat as ons ons tieners aan die lees kan kry, gaan daar vir hulle ‘n hele nuwe wêreld oop, soos wat ek nou weer gesien en ervaar het ten aanskoue van die opgewondenheid van nie net die lees van ‘n boek nie, maar ook oor die skep daarvan. En alles in ons mooi taal.

Dis vir my ʼn voorreg om toegelaat te word tot die geheimenisse en verbeeldingsvlugte van my pragtige tienerkind met die sterre in haar oë. Om saam met haar hierdie avontuur mee te maak en ons idees in woorde te omskep is voorwaar ʼn spesiale geskenk.

Ek is diep dankbaar vir hierdie vreugde.

Die vreugde van 2014: ek het probeer

images[8]

Hierdie jaar was ʼn besonder bedrywige, maar baie suksesvolle jaar vir my. In alle opsigte is daar voldoen aan elke behoefte. Elke versugting en begeerte wat ek uitgespreek het, elke wens is vervul.

Ek kan dit maar net toeskryf aan die feit dat ek doen waarvoor ek hier is. Dit wat ek veronderstel is om te doen, is om te skryf. Dit is my lewensdoel en waarvoor ek bestem is.

Ek het eers werklik begin leef toe ek hierdie waarheid begryp. Want hierdie besef het gekom saam met die wete dat ek eers regtig lééf as ek besig is om te skryf. Dis al wat ek wou doen, en as ek daarmee besig is, bestaan niks anders vir my nie. Die storie vloei uit my uit soos ʼn rivier en dis met verwondering dat ek nou net voor Kersfees terugsit en besef ek het hierdie jaar 10 boeke gepubliseer – agt het ek self uitgegee, en twee is deur Kwarts Uitgewers op die groot boekwinkels se webwerwe versprei.

Voldoen al my stories aan die groot geeste se vereistes? Nee, by verre nie, maar ek moes iewers begin, en vandag het ek meer geleer en gelees as wat ek ooit gedink het ek sal doen. Maar ek wou, en ek het.

Dis heerlik, dis wonderlik en ek loop op lig!

My doel is om deur my skryfwerk en my boeke inspirasie, wysheid en vreugde te bring. Om die lag in die dag te sit, om die mooi uit te wys, om elke oomblik se romanse bewustelik aan te gryp. Want die lewe is vol van romanse – dis nie net in die lyflike nie, maar ook in die hart. Waar daar liefde is, is daar lewe, is daar romanse.

Gaan doen wat jou hart vir jou sê om te doen. Wat is jou begeerte? Wat is die een ding wat jy bo alles begeer om te doen? Moenie sê: “ek kan nie, want…” Vergeet van ek kan nie. Vra liewer: “hoe kan ek dit doen?” Begin dan met die einddoel. Waarheen mik jy? Skryf dit neer en staan terug. Begin dan jou pad beplan met die eerste treë, dan die volgende, en die volgende wat jy moet gee om daar te kom.

Word soos water – vloei om die hindernisse op jou pad. Vind ʼn weg bo-oor of daarom, maar moet nooit fokus verloor nie. Jy sal dalk ʼn ander roete volg, maar jou einddoel bly dieselfde. Word stil en wag vir wysheid en inspirasie. Gaan sit stil, maak jou oë toe en vra: hoe moet ek hier maak? Jy sal verbaas wees oor die antwoord wat spontaan vir jou gegee word. Treë vir treë sal jou pad vir jou oop gaan – mits jy doen wat jou hart vir jou sê. Dit gebeur as jy jou lewensdoel vervul.

Doen dit. Die keuse is joune. Die vrugte daarvan is meer as waarvan jy ooit kon droom.