Tag Archive | lief

Die uitdaging van ‘n reeks

KWIKSILWER (1)

Die uitdaging van ‘n reeks

Om ʼn reeks te skyf is ‘n uitdaging, want die skrywer moet kontinuïteit in gedagte hou. Elke boek in die reeks vertel sy eie storie, maar dit moet tog voortbou op die storie voor hom. Anders as met ʼn alleenstaande boek, moet die skrywer in gedagte hou dat die storie in ʼn reeks na die volgende boek moet lei. Daar moet dus baie noukeurig rekord gehou word van die karakters en die agtergrond waarteen elke boek afspeel. Die volgende boek tel die drade van die een voor hom op en bou voort op die lewens van die karakters wat in die voorafgaande boeke voorgekom het. Daar moet ʼn deurlopende lyn wees wat die reeks aanmekaar verbind hou, al kan mens die boeke afsonderlik lees. Ek sorg maar dat die einde van die een boek die leser prikkel om die volgende een ook te lees.

Tuiste vir my Hart 2          doepa-vir-my-hart

Toe ek Kwiksilwer  begin skryf het, het ek nie geweet dat dit op die Fynbos-reeks sal uitloop nie. Ek het eers aan die einde daarvan besluit dat dit die eerste boek van hierdie reeks sal wees. Kwiksilwer het die grond voorberei en dit het gevra dat ek die storie van die Brandt-familie verder moet vertel. Daar was darem vier broers en een meisiekind, en hulle verhale moes uit.

Ek is baie dankbaar oor die sukses van die Fynbos-reeks waarvan daar reeds vyf boeke die lig gesien het. Kwiksilwer, Tuiste vir my Hart, Doepa vir my hart, Pad na my Hart en Formule vir my Hart verkoop flink in Amazon.com se boekwinkel. Lesers se aanmoediging dui daarop dat ek moet voortbou daaraan.

pad-na-my-hart-1        formule-vir-my-hart-1

Ek het reeds begin werk aan die sesde storie, Visioen van my Hart. Hierdie boek vra veel van my en die uitdaging hier is groter, maar my voorneme is om dit te voltooi sodra die ‘manne in die basement’ (my onderbewussyn) gereed is met die storie.

Die Fynbos-reeks is nie my eerste probeerslag nie. Ek het reeds drie reekse geskryf. My eerste reeks het bestaan uit twee Engelse boeke, The Road to Eden en Oak Seed. Dit was deel van die Oak Seed-reeks.

RomanceCollection        The Road to Eden Kindle        Oak Seed Cover Fiverr Rachelle_du_Bois_1b

Daarna het ek die Faktor-reeks geskryf wat op hierdie stadium twee fantasieë insluit – Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor.

die-faktor-fantasie-reeks

Gaan loer gerus by die skakel Kortpad na Romanse bo aan die bladsy, of kyk regs. Jy sal al my boeke daar kry met die skakels na die winkel toe. Ek hoop jy sal dit lees en kommentaar lewer daarop.

Jou aanmoediging is vir my goud werd.

 

Elke nuwe begin

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Om weer aan die gang te kom aan die begin van ’n nuwe jaar, is ’n groot uitdaging vir sommige en ’n groot verligting vir ander. Na die lang skoolvakansie en die kans om weg te breek en te gaan uitspan op ʼn ander plek as by jou huis – dis te sê as jy gelukkig genoeg is om dit te kan doen – is dit amper ʼn skok om weer tuis te kom en van vooraf te begin hardloop om alles reg te kry vir die komende skooljaar, en ook om weer die leisels op te tel by die werk.

Vir sommige is dit ʼn verligting om weer tuis te wees na die malligheid van die feesseisoen. Of om tuis te wag dat die tydperk oor die einde van ʼn ou jaar en die oorgang na die nuwe tog net verby moet gaan.

Almal is nie altyd ewe opgewonde oor die feestyd nie, want vir party is dit ʼn tyd van seerkry, verlies, pyn en trane. Van iemand onthou wat weggegaan het of skielik deur die dood weggeruk is.

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die besef dat ek ʼn geleentheid het om weer ʼn nuwe begin te maak. Nie net met ʼn nuwe jaar nie, maar met elke dankbare asemteug begin ek nuut. Elke oggend wink en elke aand skitter van belofte. Daarom gaan ek die tyd gebruik om my lewe in te rig met alles wat skoon en mooi is.

Dis tog binne my bereik om dit te kan doen.

Om die skoonheid van die natuur te waardeer, die verfrissing van water, of ʼn geurige blom. Ek gaan ʼn punt daarvan maak om bewustelik elke klein plesier en vreugde raak te sien en te koester. Op hierdie manier sal ek my lewe volmaak, ten spyte van dit wat bedags by die werkplek, of op die pad, of waar ookal, gebeur. Ek gaan doelbewus soek na vreugde te midde van die chaos van die lewe.

En ek sal weet dat die oplossing vir elke probleem reeds in aantog is en spontaan sal verskyn wanneer die tyd ryp is. Ek onderneem om niks vandag te oordeel nie, om tyd te maak om in die natuur deur te bring om die intelligensie en die wonder van die lewe te ervaar.

Ek sal vandag die lewe se goeie en mees kosbare gawes gee: vriendelikheid, deernis, omgee, geld, kos, ʼn glimlag, ʼn seën, ʼn gebed, ʼn blom. Ek sal dit weer met dankbaarheid uit die hand van die lewe ontvang en so die ewige siklus van gee en dankbare ontvang in stand hou.

Ek sal vandag my keuses oorweeg en luister na my hart om te bepaal of ek myself of iemand anders skade gaan berokken of seermaak met wat ek kies om te doen of dink, want wat ek saai sal ek maai. Dit is die wet van oorsaak en gevolg en dit wat jy dink en doen, sal na jou terugkom in gelyke maat.

Ek sal mense, dinge, situasies, omstandighede en gebeurtenisse aanvaar net soos dit is op hierdie gegewe oomblik, sonder om my daarteen te verset of in opstand te kom, want ek weet dat dit is soos wat dit moet wees – nou. Ek gaan nie veg of weerstand bied teen iets wat ek nie kan verander nie. Ek sal geduldig wag vir die oplossing om spontaan te voorskyn te kom sodra die tyd ryp is.

Ek sal verantwoordelikheid vir my eie situasie aanvaar en niemand beskuldig nie, want dit is soos dit is, en die oplossing vir die probleem is reeds in aantog te midde van die chaos. Dit weet ek verseker, want ek het dit gesien.

Ek gaan niemand van my standpunt probeer oortuig, dit regverdig, of dit verdedig nie, want ek weet dat elkeen geregtig is om te wees wie hy is, of om sy lewe te kies soos hy dit wil sonder dat ek hom in ʼn rigting wil dwing. Ek sal kyk en leer uit die onbeperkte opsies wat aan my voorgehou word en my eie keuse maak sonder om ʼn ander te benadeel.

Ek sal my eie hartsbegeertes oordink en dit oorgee aan die vrugbare oneindigheid om dit vir my te bring, weer en weer. In hierdie klein hande sal die oorvloed gegee word om weer uit te deel. So sal ek skoonheid skep vir myself en vir ander.

Ek sal onsekerheid in my lewe toelaat en die wysheid van die onbekende omhels. Ek sal my losmaak van gister en môre, en hierdie oomblik omhels met al die opgewondenheid en wonder van ʼn kind, want wie weet wat wag nou vir my in hierdie opwindende minuut, uur, of dag.

Ek sal vandag die mensdom dien deur aan hulle my boeke te bring. Al die lewe se vreugde, lag en trane, al die lief en leed, die romanse, hartstog en liefde van die hart. Ek sal met hulle die waarheid en wysheid deel soos ek dit verstaan.

En ek sal liefde gee waarvan my hele hart so vol is. Daarom, liefde en vreugde en seën vir julle!

Rachelle du Bois

 

 

 

Groot liefdes

Photo0061

Ek het groot liefdes in my lewe. Nee, ek praat nou nie van mense nie, want hulle beslaan ʼn hele huis op hul eie. Ek praat nou van ander dinge waarsonder ek nie kan lewe nie. Dinge wat my so verryk en so diep raak dat ek net ʼn halwe mens sou wees daarsonder.

Een so ʼn liefde is die natuur. Daar is intelligensie daar. Om dit daagliks te sien en getuie te wees daarvan is ʼn wonder op sigself. Geen mens vertel vir die lobelias om pers te blom nie, dis in hul aard om dit te doen. Geen mens vertel vir die vinke om kwetterend nes te bou in die boom voor my venster nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. En buitendien is dit lente – die tyd van die liefde. Niemand wys vir die varing hoe om nuwe blare oop te rol en te vermeerder nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. Die oënskynlik dooie boomstomp spruit na baie maande, of selfs jare, skielik uit. Teer, groen uitloopsels verskyn uit die donker bas – dis in sy aard om herbore te word, eindeloos soos die seisoene, oor en oor.

Net so is dit in my aard om deel te wees van die natuur se skeppingsproses. Net so is ek verbind aan die naelstring wat alles bymekaar hou en saam laat werk sonder enige instruksie, want dis in my aard.

O, dan is daar my liefde vir musiek. Het jy al met jou hart geluister na musiek wat jou uit jou self uit lig en jou neem na ʼn plek waar daar net klank is? Lieflike klank wat geen eise aan jou stel nie, behalwe net om te voel hoe jou hele wese oorgeneem en gevul word, tot net die musiek bestaan. Dis vir my die hemel, hierdie oomblikke teen skemer met die deure wyd oop en die musiek wat daaruit oor die tuin spoel. Ek bestaan dan nie. Ek raak geheel weg tot ek later, as dit stil word, net die aand se geluide hoor. Eers dan weet ek ek is nog hier in liggaam.

Boeke. Sonder boeke en woorde en wysheid kan ek nie. Ek word telkens verkwik na siel en liggaam deur ʼn mooi boek, of ʼn gedig wat fyn geweef is met woorde. Ek sou baie armer gewees het as dit nie vir boeke was wat my ledige ure en soms dae gevul het nie. Wat ʼn seën is ʼn goeie boek wat uit die hart geskryf is; wat ten doel het om vreugde te verskaf aan elke leser. ʼn Goeie boek is nie kieskeurig nie. Hy is daar vir die hande wat hom wil optel en oopmaak. Hy dwing niemand nie. Maar as jy kies om hom oop te slaan en jouself aan die woorde en die storie oor te gee, is jy verryk teen die einde. En wil jy meer hê. ʼn Onversadigbare honger is my liefde vir boeke.

Sonder stilte en rustigheid kan ek nie. Stilte krap nie die gees om nie en skraap jou nie rou nie. Ek is altyd oneindig dankbaar as ek van ʼn inkopietog af terugkeer na my huis. Na die stilte, die kalmte en die rustigheid. Dis my hawe. Dis waar ek geanker word deur my tuin, my musiek en my stilte.

Elkeen moet so ʼn plek hê. Waar jy net kan wees en kan word.

Ja, daar is meer as net hierdie paar groot liefdes vir my. Soos goeie, intelligente geselskap en goeie kos. Maar dit sal ook weer nog ‘n hele bladsy op sy eie nodig kry. Kom ons los dit vir later.

‘n Kort kort storie: Sy wou nog sê…

images[1]

Hy kom haastig ingestap, ʼn klein glimlag om sy mond toe hy haar sien. Sy hou hom dop en merk dat hy nie veel verander het nie. Sy het hom amper vier-en-twintig jaar gelede vir die laaste keer gesien en hy lyk nie ouer nie, net effens breër van lyf. Geen sigbare grys hare nie, nie veel plooie nie. Vir ʼn man van sy ouderdom lyk hy baie goed.

Hy skuif langs haar op die sitplek in en buk glimlaggend oor om haar te soen.

“Hoe gaan dit?” vra sy, bly om hom te sien. Uiteindelik sit hy hier by haar, na al die jare.

“Goed, en met jou? Kan ek maar anderkant sit dan kan ek jou beter sien?” vra hy en sy knik.

“Ja, natuurlik. Ek’s bly jy het darem die plek gekry. Ek het amper gedink ek sal jou moet gaan soek, en dan kom soek jy my dalk weer,” lag sy en steek haar hande spontaan na hom uit.

“Dis so goed om jou te sien.” Sy lag is dieselfde as hy dadelik albei haar hande in syne neem en dit stewig druk. Hy laat haar onmiddellik gaan en sy laat hul voor haar op die tafel rus. Sy het soveel om te vra, soveel om te sê.

“Hoe gaan dit met jou? Jy lyk goed.” Sy bekyk hom aandagtig, en hy vir haar, maar sy kan nie die kleur van sy oë sien nie. Sy soek na die kleur van die pragtige oë van die man oorkant haar, maar die lig verberg dit, steek dit vir haar weg. Sy soek na die blou wat haar so kon vashou jare gelede.

“Dit gaan goed, en met jou? Jou familie?” vra hy en kyk na die kelner wat langs die tafeltjie huiwer.

Hul gesprek draai om die stadsverkeer, die winkelsentrum, die kinders, hul geliefdes en bekendes. Hy wys foto’s op sy selfoon, maar sy weet hul het meer om te sê as waaroor hul praat. So baie meer.

Hul vul die kort swanger stiltes vinnig in met inligting oor die ekonomie, die politiek, die amper hopelose situasie in die land.

Terwyl hul praat oor ander dinge, weet sy dat die tyd deur hul vingers glip sonder dat sy sê wat sy vir hom wil sê. Sy wil vir hom sê dat sy nie spyt is oor wat gebeur het nie, dat sy gewonder hoe dit sou gewees het as dinge vir hul anders was, dat sy so verskriklik bly is om hom te sien. Sy wil vir hom sê hoe mooi hy nog vir haar is. Dat sy eens nog saam met hom by kerslig wou eet, sy huis vir hom wou mooi maak, stylvol aan sy sy wou wees. Sy wil sê hoe graag sy eens nog met hom oor die dansvloer wou sweef, in sy arms wou wees waar sy gedink het sy is veilig.

Eens, toe die aarde onder haar voete verkrummel het, en sy met moeë  arms en hande na vashouplek gesoek het. Maar sy wil ook sê dat hy die regte besluit geneem het. Dat iets in haar gesterf het toe hy weg is, en dat sy vir ʼn tyd opgehou leef het. Sy wil vir hom vertel die drif om te leef was sterker, en soos saad wat moes sterf voor dit weer kan groei, het sy weer in die donker rykdom van die grond ontkiem, en haar kop bo die grond uitgesteek om ʼn groot boom te word met baie blare, en ʼn groot skaduwee met koelte waar uitgeputte lewensreisigers ʼn oomblik kan rus.

Sy wil vir hom vertel dat sy nie meer die jong vrou is wat hy geken het nie; dat sy onomkeerbaar verander het. Nie net uiterlik nie, maar sy is ouer, wyser. Sy is nie meer die vrou met die verleidelike lyf en die stukkende lewe wat hy leer ken het soveel jare gelede nie. Sy is nie meer die slagoffer nie, sy het die oorwinnaar geword. Sy wag nie meer vir die ridder op die wit perd nie, maar sy het haar eie perd opgesaal. En sy is tot die tande toe gewapen met die wapenrusting wat sy self gekies het op haar lewenspad. Kan sy dit waag om hom daarvan te vertel? Haar wapenrusting is so anders as die konvensionele… Sal hy verstaan as sy vir hom vertel dat sy die onuitputlike bron van krag binne haar ontdek het? Dat sy nie meer vir ander wag om vir haar blomme te bring nie, maar dat sy haar saad in haar eie tuin saai, en haar eie blomme pluk? Dat sy waarlik vry is?

Sy wil vir hom sê dat sy bly is hy is hier, dat hy weer moet kom, maar dat sy net vry kan wees as sy vrylaat en dat hy daarom vry is….

Hul stilte is swanger en tog sê hul nie wat in hul hart lê nie. Hul ongesproke woorde lê tussen hulle soos ʼn muur, en as die tyd om is, groet hy, staan op en begin wegstap.

“Kom soen my,” roep sy toe hy begin aanstap en hy draai vinnig om. Sy mond is nog sag soos sy dit onthou.

En sy het steeds nie die kleur van sy oë gesien nie.