Tag Archive | luister

Elke nuwe begin

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Om weer aan die gang te kom aan die begin van ’n nuwe jaar, is ’n groot uitdaging vir sommige en ’n groot verligting vir ander. Na die lang skoolvakansie en die kans om weg te breek en te gaan uitspan op ʼn ander plek as by jou huis – dis te sê as jy gelukkig genoeg is om dit te kan doen – is dit amper ʼn skok om weer tuis te kom en van vooraf te begin hardloop om alles reg te kry vir die komende skooljaar, en ook om weer die leisels op te tel by die werk.

Vir sommige is dit ʼn verligting om weer tuis te wees na die malligheid van die feesseisoen. Of om tuis te wag dat die tydperk oor die einde van ʼn ou jaar en die oorgang na die nuwe tog net verby moet gaan.

Almal is nie altyd ewe opgewonde oor die feestyd nie, want vir party is dit ʼn tyd van seerkry, verlies, pyn en trane. Van iemand onthou wat weggegaan het of skielik deur die dood weggeruk is.

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die besef dat ek ʼn geleentheid het om weer ʼn nuwe begin te maak. Nie net met ʼn nuwe jaar nie, maar met elke dankbare asemteug begin ek nuut. Elke oggend wink en elke aand skitter van belofte. Daarom gaan ek die tyd gebruik om my lewe in te rig met alles wat skoon en mooi is.

Dis tog binne my bereik om dit te kan doen.

Om die skoonheid van die natuur te waardeer, die verfrissing van water, of ʼn geurige blom. Ek gaan ʼn punt daarvan maak om bewustelik elke klein plesier en vreugde raak te sien en te koester. Op hierdie manier sal ek my lewe volmaak, ten spyte van dit wat bedags by die werkplek, of op die pad, of waar ookal, gebeur. Ek gaan doelbewus soek na vreugde te midde van die chaos van die lewe.

En ek sal weet dat die oplossing vir elke probleem reeds in aantog is en spontaan sal verskyn wanneer die tyd ryp is. Ek onderneem om niks vandag te oordeel nie, om tyd te maak om in die natuur deur te bring om die intelligensie en die wonder van die lewe te ervaar.

Ek sal vandag die lewe se goeie en mees kosbare gawes gee: vriendelikheid, deernis, omgee, geld, kos, ʼn glimlag, ʼn seën, ʼn gebed, ʼn blom. Ek sal dit weer met dankbaarheid uit die hand van die lewe ontvang en so die ewige siklus van gee en dankbare ontvang in stand hou.

Ek sal vandag my keuses oorweeg en luister na my hart om te bepaal of ek myself of iemand anders skade gaan berokken of seermaak met wat ek kies om te doen of dink, want wat ek saai sal ek maai. Dit is die wet van oorsaak en gevolg en dit wat jy dink en doen, sal na jou terugkom in gelyke maat.

Ek sal mense, dinge, situasies, omstandighede en gebeurtenisse aanvaar net soos dit is op hierdie gegewe oomblik, sonder om my daarteen te verset of in opstand te kom, want ek weet dat dit is soos wat dit moet wees – nou. Ek gaan nie veg of weerstand bied teen iets wat ek nie kan verander nie. Ek sal geduldig wag vir die oplossing om spontaan te voorskyn te kom sodra die tyd ryp is.

Ek sal verantwoordelikheid vir my eie situasie aanvaar en niemand beskuldig nie, want dit is soos dit is, en die oplossing vir die probleem is reeds in aantog te midde van die chaos. Dit weet ek verseker, want ek het dit gesien.

Ek gaan niemand van my standpunt probeer oortuig, dit regverdig, of dit verdedig nie, want ek weet dat elkeen geregtig is om te wees wie hy is, of om sy lewe te kies soos hy dit wil sonder dat ek hom in ʼn rigting wil dwing. Ek sal kyk en leer uit die onbeperkte opsies wat aan my voorgehou word en my eie keuse maak sonder om ʼn ander te benadeel.

Ek sal my eie hartsbegeertes oordink en dit oorgee aan die vrugbare oneindigheid om dit vir my te bring, weer en weer. In hierdie klein hande sal die oorvloed gegee word om weer uit te deel. So sal ek skoonheid skep vir myself en vir ander.

Ek sal onsekerheid in my lewe toelaat en die wysheid van die onbekende omhels. Ek sal my losmaak van gister en môre, en hierdie oomblik omhels met al die opgewondenheid en wonder van ʼn kind, want wie weet wat wag nou vir my in hierdie opwindende minuut, uur, of dag.

Ek sal vandag die mensdom dien deur aan hulle my boeke te bring. Al die lewe se vreugde, lag en trane, al die lief en leed, die romanse, hartstog en liefde van die hart. Ek sal met hulle die waarheid en wysheid deel soos ek dit verstaan.

En ek sal liefde gee waarvan my hele hart so vol is. Daarom, liefde en vreugde en seën vir julle!

Rachelle du Bois

 

 

 

Ek skryf vir jou

images[1]

Vir wie skryf ek? Ek skryf vir jou, Alleenvrou. Vir jou wie se lewe ʼn stryd geword het. Vir jou wat alleen met een of meer klein kinders agtergebly het na ʼn egskeiding of ʼn mislukte verhouding. Vir jou wat niks het behalwe die liefde vir jou kinders en die vrees vir die toekoms nie.

Ek skryf vir jou, want ek wil vir jou vertel van jou innerlike krag, van dit wat binne jou wag, van verder kyk, van soek na die moontlikhede daar buite, terwyl jy sukkel om te oorleef. Ek skryf dit vir jou, want ek weet.

Ek skryf vir jou, Vrou, wat in ʼn rykmanshuis woon, maar elke dag ʼn bietjie meer van jou siel prysgee omdat jou man ontrou aan jou is, omdat hy sonder respek vir jou, vreemde vroue na jou bed toe bring. Vir jou, Vrou, wie se man ʼn prokureur of ʼn dokter of ʼn welaf sakeman is. Vir jou wat deur hom aangerand word – geslaan word op jou lyf waar niemand die kneusplekke kan sien nie. Net jy weet van die wonde aan jou gees. En die vrees vir die toekoms en die lewe van jou kind.  En ek vertel vir jou van ʼn vrou genaamd Mari. Want jy is Mari.

Vir jou wie se man ontrou is en wat dapper klou aan die sekuriteit van ʼn liefdelose huwelik, want jy het nooit geleer om jou eie bankrekening te hanteer, of jou eie huurooreenkoms te teken, of jou eie versekering uit te neem nie. Want hy het gesê dis nie nodig nie – hy sal vir jou sorg. Maar intussen het hy vir jou ʼn tronk gebou. Vir jou wat vervreemd van jou familie geraak het, want jy behoort aan hom, en aan niemand anders nie. Vir jou vir wie die lewe daarbuite ʼn dreigende duisternis is, nou bly jy maar by jou ontroue man, terwyl hy jou stadig vernietig. Jy en ander soos Mari.

En ek skryf vir jou, Jong Man, wat dink jy moet eers genoeg goed en geld hê om te kan liefhê. Eers as jy genoeg het, sal jy die vrou van jou hart kan opeis. Maar wanneer is genoeg? En wat laat jou dink sy gaan vir jou wag? Vir jou bring ek Thinus, Mari se broer, en sy liefde vir Deirdre.

En vir jou wat liefgekry het met die eerste oogopslag, wat weet jy het nie geleef voor sy nie daar was nie. Want voor haar was daar niks, en na haar sal daar niks wees nie. Vir jou bring ek Dewald en sy Mari.

Ek skryf vir jou, Man, wie se vrou jou aanrand. Vir jou wat so skaam en verneder is dat jy nooit met iemand daaroor praat nie, maar jou siel het in jou doodgegaan. Vir jou wat tussen jou familie, kollegas en jou vriende voorgee dat jou huwelik gelukkig is, dat alles is soos dit moet weet. Maar jy wil nie huis toe gaan nie, want die duiwel met haar flitsende oë, haar gille, haar skerp naels en venynige vuiste wag daar op jou. Want jou naam is Herman, en die liefde het jou verskrik en vernietig, en jy dink jy sal nooit weer liefhê nie. Tot daar eendag ʼn maandanser in jou tuin verskyn, en jy weer die roering voel van die liefde, en jy gedwing word om anders te kyk na dit waarvoor jy gevlug het. En jy kies om heel te word, want jy wil. En jy Beskuldig dan die LIefde.

En ek skryf vir jou, Juffrou, van die jong onderwyseres wie se kindervriend en jong man uit haar tienerjare skielik anders is. Van haar vreemde gesoek na die seun wat ʼn man geword het, en wie se gewone tergery nie net meer terg is nie, wie se aanraking nou anders is. Ek vertel vir jou van Trixie en haar buurman, Pieter Vonk. Ek bring dit alles vir jou in Beskuldig dan die Liefde.

Ek skryf vir jou wat nie dink jy kan weer begin leef na ʼn mislukte huwelik of verhouding nie, Man of Vrou. Vir julle wat bang en stukkend is. Vir jou wat nie vorentoe of agtertoe weet nie. Wat huil waar ander jou nie sien nie.  Vir jou wat vlug voor jou pa of jou man se dronkenskap. Vir jou wat jou vertroue in ander verloor het. Dis vir jou wat ek wil aanraak en verseker: ek weet van jou. Vir jou bring ek Lelani, met haar pyn, haar liefde vir haar boeta Chris, haar wantroue wat vertroue geword het. Vir jou bring ek haar oor begin, haar voor begin. Vir jou bring ek haar liefde vir Leon en sy liefde vir haar, die een wat haar geleer het dat die liefde heelmaak, ongeag jou omstandighede.

Ek skryf vir jou wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, en nou alleen agterbly. Vir jou wie se fondamente geskud is en onder jou voete verkrummel het. Wie se lewe donker geword het. Vir jou wat smekend om hulp roep, maar niks hoor nie. Wat in die stilte van die nag wag, nag na nag. Vir jou bring ek Inge, wat help om André uit die donker terug te bring.

En vir jou bring ek Madri, en haar Alex uit Maalkolk.

Ek bring vir jou die skone vrou wat huiwer op die randjie van die afgrond toe sy by Oak Manor, die tuiste van Adam Blythe, aanmeld as huisbestuurder. Ek vertel vir jou van die verwoesting teweeggebring deur ongeluk en dood, van haar lewe van isolasie, pyn en verlies. Maar ek vertel ook van die rykdom van die liefde wat haar uiteindelik heel maak. En van die man in wie se skadu sy kon skuil, want sy is na hom toe gebring op ʼn voorafbepaalde tyd, en hy het vir Eve Vermont gewag. Dis alles in The Road to Eden.

Ek wil vir jou sê dat jou lewenspad vir jou vooruit bepaal is, dat die lewe soms dinge na jou gooi waarop jy nie voorbereid is nie, maar dat jy nie hulpeloos en uitgelewer is nie, want jy het altyd ʼn keuse binne jou omstandighede. En dat die fyn draad wat die een wat vir jou bedoel is aan jou verbind, onbreekbaar deur alle tye strek tot julle mekaar se paaie kruis. Ek bring vir jou Oak Seed, die jong ingenieur Martin Blythe, en die pragtige rooikop met die groen oë vir wie hy die eerste keer in die universiteitsbiblioteek sien. En hy weet: iets het onherroeplik vir hom verander. En hy het haar gesoek asof sy lewe daarvan afhang. Want sy volgende asemteug was Alicia. Sy, wat hom herken het, maar sy het hom nog nooit gesien nie. Sy het net geweet sy moet by hom wees. Sy moes kies tussen weerstand en dit wat vir haar bestem is. Tussen haar liefde vir ʼn onbekende man, en dit wat haar verstand vir haar sê.

Ek skryf vir jou, pragtige Jong Vrou, wat weet waar jy wil heen, wat weet wie jy is, jy wat dink die liefde laat hom voorskryf. Vir jou wat versigtig die kat uit die boom kyk, enkellopende Beroepsvrou, vir jou wat nog nie die hoogtes en die laagtes van die liefde gesien het nie. Vir jou wat lag, en leef asof môre nooit gaan kom nie. Vir jou bring ek na die Plek van die Flaminke, daar waar Delia, Alex en sy brak genaamd Banjo, die kunstenaar Madeleen, en die sensitiewe, maar koppige tjellis Xander, mekaar van naderby leer ken. Waar hulle agterkom liefde is nie net lywe nie, maar dat dit die hele lewe omhels en alles insluit.

En ek bring vir jou die pragtige Adele uit Maalkolk, bedorwe brokkie, pa se oogappel, wat gedink het sy gaan vir Francois maklik van die plaas af wegkry deur haar hooghartigheid en beterweterigheid. Maar sy het haar misgis, want Francois weet wie hy is, en hy weet wie hy wil hê: vir haar wat Adele is.

En ek bring jou om te luister na die Lied van Lorelei. Ek neem jou saam na die Laeveld waar twee jong, welaf sitrusboere hul lewe leef tot daar op ʼn dag ʼn spul vroumense met ʼn taxi opdaag om te kom vir onderhoude vir ʼn moontlike huwelik. En tot daar op dieselfde dag twee vroue verskyn wat alles is waarvoor hulle gewag het, wat vrouwees verpersoonlik, maar wat niks van hulle wil weet nie. En dit als oor die groot misverstand… Ek bring vir jou die lag, die chaos, die versoening.

Ek bring vir jou die boodskap dat die lewe jou vorentoe vat, soms na ʼn plek of ʼn punt toe waar jy nie wil wees nie; wat jy nie gekies het nie. Ek wil vir jou vertel dat jy daar moet wees, dat dit so moet wees as jy uiteindelik by die rusplek wil kom waar jou tuiste is. Daarom bring ek vir jou die storie van Pippa’s Story/Destined to Love, die weeskind uit Johannesburg wat alleen die pad aandurf na die klein dorpie Sierberg in die Vrystaat. Daar waar Julian du Toit vir haar wag omdat hy dit belowe het aan haar ouma. Die ouma van wie sy noot geweet het nie, en wat vir haar ʼn erfporsie ver groter gelos het as wat sy ooit besef het, want dit het Julian ingesluit.

Ek skryf om jou hoop te gee. Om jou aan te moedig om op te staan, om oor te begin en voor te begin. Om jou te help om te verstaan dat jy sterker is as wat jy dink. Dat vrees en terugslae kleiner is as die krag binne in jou. Dat jy beskik oor ʼn onblusbare gees, al voel dit nie nou vir jou so nie. Dat jy beskik oor die vermoë om te uit te styg bo al jou pyn en seerkry, al die bang môres, al die woede en vernedering, en om weer lief te hê by alle grense verby.

Ek skryf om jou te bemoedig, om te vertel dat die liefde stukkend slaan maar ook heel maak, dat dit jou oplig en uitlig, dat dit jou laat vlieg na die hoogtes waar die arend sy nes maak. Want jy is ʼn arend, nie ʼn hoender nie. Jy hoort daar bo, en daar is iemand wat jou soontoe sal vergesel, maar wat nooit namens jou sal vlieg nie. Jy moet dit self doen.

Maar bo dit alles, skryf ek vir jou oor die liefde tussen ʼn man en ʼn vrou.

Dis vir jou en oor jou wat ek skryf.

Dis romanse.

Vir meer inligting oor hierdie boeke, klik regs op https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/. Die skakels sal jou regtuit soontoe vat.

Die boeke kos tussen R50.00 en R70.00 elk.

Oor misverstand en pyn

 

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Liefde is die waagmoed om jouself weerloos te laat, het iemand eendag gesê. En dit is so. Wanneer ons liefhet is ons weerloos. Dis die dapperes wat dit waag om lief te hê, want dis hulle wat instinktief weet dat die liefde die lewe is. Sonder liefde, verskraal ons bestaan hier op aarde tot ‘n vaal eenselwigheid van dae.

Kyk maar hoe mooi is mense wat liefhet – hoe hulle straal asof daar ‘n lig binne hulle skyn. Die liefde is helder, dis verruklik, dis mooi en dit wys. Dit kan nie weggesteek word nie.

Maar as die misverstand sy opwagting maak, is daar niks soos die pyn van die liefde nie. Dan word dit donker en jou hart skeur.

Dit hoef nie so te wees nie. Luister net eers ….

Hier volg ‘n kort uittreksel uit my boek Maalkolk:

Madri hoor die deur oopgaan en sy snak toe sy vir Deon met sy rug teen die deur sien staan. Hy draai om en sluit die deur doelbewus agter hom toe. Madri se oë rek groter toe hy naderkom, en sy glip aan die anderkant van die bed af, maar hy reik oor en kry haar aan haar gesonde arm beet; pluk haar oor die bed sodat sy hulpeloos op die bed en byna onder hom beland. Sy mond is ʼn dun streep en sy oë kil terwyl hy haar bekyk. Hy vat haar ken in sy hand om te keer dat sy haar kop wegdraai, en sê tussen geklemde kake, amper fluisterend, wreed: “Wie is jy, Madri Viljoen? Waar kom jy vandaan? Wie is die kind saam met jou op die foto? Is jy getroud? Wie se kind is dit?”

Madri probeer haar kop wegdraai, weg van die verskriklike pyn en die ontnugtering in sy oë, maar hy lig haar kop oor sy arm en hou met sy ander hand haar hare vas sodat sy nie kan roer nie. “Deon, asseblief, jy verstaan nie …,” sê sy met ʼn snik wat haar lyf ruk, maar hy steur hom nie aan haar pleidooi nie, trek haar net stywer onder hom in.

“Vertel my, Madri,” sê hy onheilspellend sag, laat sy kop sak tot in haar nek, en asof hy homself nie kan help nie, trek sy mond ʼn vuurstreep teen haar nek op tot by haar mondhoek. Sy snak na haar asem en sy mond beweeg oor haar halfoop lippe, sag soos ʼn vlinder.

“Papillon; skoenlapper,” fluister hy teen haar mond. Sy het opgehou spartel en lê bewegingloos in sy arms; sy oë op haar gesig. Sy kyk nie weg nie ….