Tag Archive | natuur

Die blywende vreugde

Pearls canstockphoto6111406

Daar is min wat vergelyk met die gevoel van diep bevrediging as mens iets gedoen het wat aan jou vreugde en genoegdoening verskaf. Dink nou maar aan ’n goeie boek. Daardie sug van behaaglikheid as mens die laaste bladsy lees; die laaste paragraaf; die laaste sin. Dan blaai jy eers weer terug na die stukke wat jy gemerk het om weer te lees. Dit is soos reën op droë grond, soos dou in die oggend, soos wind wat deur jou waai en jou verfris na ’n lang dag se hitte.

Ek het saam met die karakters van Nicholas Sparks deur hul wonderlike lewens gestap. As leser het ek stil geword by die beskrywings van die natuur, die agtergrondsketse, die intense gevoelvolheid waarmee hierdie skrywer sy karakters in sy verhale in weef. Ek het soms onwillekeurig my oë gesluit om te voel en te sien wat hy beskryf. Die prentjies is so duidelik asof ek self daar was, in die verhaal op daardie tydstip.

Dit is ʼn kuns om die konteks en die omgewing waarbinne jou verhaal afspeel so te beskryf dat die leser dit in sy verbeelding kan sien en ervaar. Dit is ook iets wat heel dikwels afgeskeep word. Niemand bestaan tog in ʼn vakuum nie. Daar is altyd ʼn plek, ʼn omgewing, ʼn huis of blyplek, ʼn straat, ʼn beroep wat beskryf moet word. Daar is die natuur, die wind en die weer. Al hierdie dinge gee vleis aan jou storie en help die leser om die karakters in die konteks te plaas waar die verhaal hom afspeel.

Ek het geleer om met my hart en my sintuie te skryf, en te lees. Daar is geen ander manier nie.

Rachelle

 

Die uitdaging van ‘n reeks

KWIKSILWER (1)

Die uitdaging van ‘n reeks

Om ʼn reeks te skyf is ‘n uitdaging, want die skrywer moet kontinuïteit in gedagte hou. Elke boek in die reeks vertel sy eie storie, maar dit moet tog voortbou op die storie voor hom. Anders as met ʼn alleenstaande boek, moet die skrywer in gedagte hou dat die storie in ʼn reeks na die volgende boek moet lei. Daar moet dus baie noukeurig rekord gehou word van die karakters en die agtergrond waarteen elke boek afspeel. Die volgende boek tel die drade van die een voor hom op en bou voort op die lewens van die karakters wat in die voorafgaande boeke voorgekom het. Daar moet ʼn deurlopende lyn wees wat die reeks aanmekaar verbind hou, al kan mens die boeke afsonderlik lees. Ek sorg maar dat die einde van die een boek die leser prikkel om die volgende een ook te lees.

Tuiste vir my Hart 2          doepa-vir-my-hart

Toe ek Kwiksilwer  begin skryf het, het ek nie geweet dat dit op die Fynbos-reeks sal uitloop nie. Ek het eers aan die einde daarvan besluit dat dit die eerste boek van hierdie reeks sal wees. Kwiksilwer het die grond voorberei en dit het gevra dat ek die storie van die Brandt-familie verder moet vertel. Daar was darem vier broers en een meisiekind, en hulle verhale moes uit.

Ek is baie dankbaar oor die sukses van die Fynbos-reeks waarvan daar reeds vyf boeke die lig gesien het. Kwiksilwer, Tuiste vir my Hart, Doepa vir my hart, Pad na my Hart en Formule vir my Hart verkoop flink in Amazon.com se boekwinkel. Lesers se aanmoediging dui daarop dat ek moet voortbou daaraan.

pad-na-my-hart-1        formule-vir-my-hart-1

Ek het reeds begin werk aan die sesde storie, Visioen van my Hart. Hierdie boek vra veel van my en die uitdaging hier is groter, maar my voorneme is om dit te voltooi sodra die ‘manne in die basement’ (my onderbewussyn) gereed is met die storie.

Die Fynbos-reeks is nie my eerste probeerslag nie. Ek het reeds drie reekse geskryf. My eerste reeks het bestaan uit twee Engelse boeke, The Road to Eden en Oak Seed. Dit was deel van die Oak Seed-reeks.

RomanceCollection        The Road to Eden Kindle        Oak Seed Cover Fiverr Rachelle_du_Bois_1b

Daarna het ek die Faktor-reeks geskryf wat op hierdie stadium twee fantasieë insluit – Die Vita Faktor en Die Lucerna Faktor.

die-faktor-fantasie-reeks

Gaan loer gerus by die skakel Kortpad na Romanse bo aan die bladsy, of kyk regs. Jy sal al my boeke daar kry met die skakels na die winkel toe. Ek hoop jy sal dit lees en kommentaar lewer daarop.

Jou aanmoediging is vir my goud werd.

 

Elke nuwe begin

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Om weer aan die gang te kom aan die begin van ’n nuwe jaar, is ’n groot uitdaging vir sommige en ’n groot verligting vir ander. Na die lang skoolvakansie en die kans om weg te breek en te gaan uitspan op ʼn ander plek as by jou huis – dis te sê as jy gelukkig genoeg is om dit te kan doen – is dit amper ʼn skok om weer tuis te kom en van vooraf te begin hardloop om alles reg te kry vir die komende skooljaar, en ook om weer die leisels op te tel by die werk.

Vir sommige is dit ʼn verligting om weer tuis te wees na die malligheid van die feesseisoen. Of om tuis te wag dat die tydperk oor die einde van ʼn ou jaar en die oorgang na die nuwe tog net verby moet gaan.

Almal is nie altyd ewe opgewonde oor die feestyd nie, want vir party is dit ʼn tyd van seerkry, verlies, pyn en trane. Van iemand onthou wat weggegaan het of skielik deur die dood weggeruk is.

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die besef dat ek ʼn geleentheid het om weer ʼn nuwe begin te maak. Nie net met ʼn nuwe jaar nie, maar met elke dankbare asemteug begin ek nuut. Elke oggend wink en elke aand skitter van belofte. Daarom gaan ek die tyd gebruik om my lewe in te rig met alles wat skoon en mooi is.

Dis tog binne my bereik om dit te kan doen.

Om die skoonheid van die natuur te waardeer, die verfrissing van water, of ʼn geurige blom. Ek gaan ʼn punt daarvan maak om bewustelik elke klein plesier en vreugde raak te sien en te koester. Op hierdie manier sal ek my lewe volmaak, ten spyte van dit wat bedags by die werkplek, of op die pad, of waar ookal, gebeur. Ek gaan doelbewus soek na vreugde te midde van die chaos van die lewe.

En ek sal weet dat die oplossing vir elke probleem reeds in aantog is en spontaan sal verskyn wanneer die tyd ryp is. Ek onderneem om niks vandag te oordeel nie, om tyd te maak om in die natuur deur te bring om die intelligensie en die wonder van die lewe te ervaar.

Ek sal vandag die lewe se goeie en mees kosbare gawes gee: vriendelikheid, deernis, omgee, geld, kos, ʼn glimlag, ʼn seën, ʼn gebed, ʼn blom. Ek sal dit weer met dankbaarheid uit die hand van die lewe ontvang en so die ewige siklus van gee en dankbare ontvang in stand hou.

Ek sal vandag my keuses oorweeg en luister na my hart om te bepaal of ek myself of iemand anders skade gaan berokken of seermaak met wat ek kies om te doen of dink, want wat ek saai sal ek maai. Dit is die wet van oorsaak en gevolg en dit wat jy dink en doen, sal na jou terugkom in gelyke maat.

Ek sal mense, dinge, situasies, omstandighede en gebeurtenisse aanvaar net soos dit is op hierdie gegewe oomblik, sonder om my daarteen te verset of in opstand te kom, want ek weet dat dit is soos wat dit moet wees – nou. Ek gaan nie veg of weerstand bied teen iets wat ek nie kan verander nie. Ek sal geduldig wag vir die oplossing om spontaan te voorskyn te kom sodra die tyd ryp is.

Ek sal verantwoordelikheid vir my eie situasie aanvaar en niemand beskuldig nie, want dit is soos dit is, en die oplossing vir die probleem is reeds in aantog te midde van die chaos. Dit weet ek verseker, want ek het dit gesien.

Ek gaan niemand van my standpunt probeer oortuig, dit regverdig, of dit verdedig nie, want ek weet dat elkeen geregtig is om te wees wie hy is, of om sy lewe te kies soos hy dit wil sonder dat ek hom in ʼn rigting wil dwing. Ek sal kyk en leer uit die onbeperkte opsies wat aan my voorgehou word en my eie keuse maak sonder om ʼn ander te benadeel.

Ek sal my eie hartsbegeertes oordink en dit oorgee aan die vrugbare oneindigheid om dit vir my te bring, weer en weer. In hierdie klein hande sal die oorvloed gegee word om weer uit te deel. So sal ek skoonheid skep vir myself en vir ander.

Ek sal onsekerheid in my lewe toelaat en die wysheid van die onbekende omhels. Ek sal my losmaak van gister en môre, en hierdie oomblik omhels met al die opgewondenheid en wonder van ʼn kind, want wie weet wat wag nou vir my in hierdie opwindende minuut, uur, of dag.

Ek sal vandag die mensdom dien deur aan hulle my boeke te bring. Al die lewe se vreugde, lag en trane, al die lief en leed, die romanse, hartstog en liefde van die hart. Ek sal met hulle die waarheid en wysheid deel soos ek dit verstaan.

En ek sal liefde gee waarvan my hele hart so vol is. Daarom, liefde en vreugde en seën vir julle!

Rachelle du Bois

 

 

 

Doepa vir my hart

doepa-vir-my-hart

Ek het nou net die laaste sin van DOEPA VIR MY HART klaar geskryf. Ek is so dankbaar en opgewonde! Maar nou kom die groot proeflees en redigering.

Wanneer sal Doepa beskikbaar wees? Hopelik teen die einde van Oktober 2016. Wees maar op die uitkyk. Die eerste twee in die Fynbos-reeks, Kwiksilwer en Tuiste vir my Hart, verkoop reeds flink op Amazon.com, en ek glo julle sal die storie van Wynand en Bella in DOEPA net so geniet.

Waaroor gaan hierdie liefdesroman? Hier is ‘n kort beskrywing net om jou leeslus bietjie aan te wakker:

Bella Buys is ʼn baie suksesvolle sakevrou met haar eie besigheid. Sy bestuur en bedryf Bella Donna, haar skoonheidsalon, soos ʼn kaptein sy skip. Sy is onafhanklik en sterk, maar sy is ook ʼn petite brunette wat manne se harte week maak en hulle dryf daartoe om haar te wil beskerm en hul kleim af te steek.

Wynand Brandt is ʼn mediese dokter en sy werk is om te heel. Bella lok hom soos ʼn mot na ʼn vlam. Hy verstaan dit nie, want sy is nie siek nie en sy het nie beskerming nodig nie. Hy weier om enigiets verder met haar te doen te hê, want hy is nie van plan om weer sy sagte vlerke te laat skroei nie. Wegbly van haar af is sy enigste opsie.

Maar dis toe nie so maklik nie, want die liefde laat hom nie voorskryf nie. Dit bly die enigste doepa vir die hart.

Sal hierdie twee mense wat van kindertyd al van mekaar weet, tot ʼn vergelyk kom en darem ruimte laat vir die hart om te gedy?

Wees saam met my bly oor hierdie derde boek in die Fynbos-reeks en hou my hande vas tot ek dit klaar blink gepoets het en dit in jou hande plaas.

Ek het dit net vir jou geskryf.

 

 

 

Groot liefdes

Photo0061

Ek het groot liefdes in my lewe. Nee, ek praat nou nie van mense nie, want hulle beslaan ʼn hele huis op hul eie. Ek praat nou van ander dinge waarsonder ek nie kan lewe nie. Dinge wat my so verryk en so diep raak dat ek net ʼn halwe mens sou wees daarsonder.

Een so ʼn liefde is die natuur. Daar is intelligensie daar. Om dit daagliks te sien en getuie te wees daarvan is ʼn wonder op sigself. Geen mens vertel vir die lobelias om pers te blom nie, dis in hul aard om dit te doen. Geen mens vertel vir die vinke om kwetterend nes te bou in die boom voor my venster nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. En buitendien is dit lente – die tyd van die liefde. Niemand wys vir die varing hoe om nuwe blare oop te rol en te vermeerder nie. Hulle doen dit, want dis in hulle aard. Die oënskynlik dooie boomstomp spruit na baie maande, of selfs jare, skielik uit. Teer, groen uitloopsels verskyn uit die donker bas – dis in sy aard om herbore te word, eindeloos soos die seisoene, oor en oor.

Net so is dit in my aard om deel te wees van die natuur se skeppingsproses. Net so is ek verbind aan die naelstring wat alles bymekaar hou en saam laat werk sonder enige instruksie, want dis in my aard.

O, dan is daar my liefde vir musiek. Het jy al met jou hart geluister na musiek wat jou uit jou self uit lig en jou neem na ʼn plek waar daar net klank is? Lieflike klank wat geen eise aan jou stel nie, behalwe net om te voel hoe jou hele wese oorgeneem en gevul word, tot net die musiek bestaan. Dis vir my die hemel, hierdie oomblikke teen skemer met die deure wyd oop en die musiek wat daaruit oor die tuin spoel. Ek bestaan dan nie. Ek raak geheel weg tot ek later, as dit stil word, net die aand se geluide hoor. Eers dan weet ek ek is nog hier in liggaam.

Boeke. Sonder boeke en woorde en wysheid kan ek nie. Ek word telkens verkwik na siel en liggaam deur ʼn mooi boek, of ʼn gedig wat fyn geweef is met woorde. Ek sou baie armer gewees het as dit nie vir boeke was wat my ledige ure en soms dae gevul het nie. Wat ʼn seën is ʼn goeie boek wat uit die hart geskryf is; wat ten doel het om vreugde te verskaf aan elke leser. ʼn Goeie boek is nie kieskeurig nie. Hy is daar vir die hande wat hom wil optel en oopmaak. Hy dwing niemand nie. Maar as jy kies om hom oop te slaan en jouself aan die woorde en die storie oor te gee, is jy verryk teen die einde. En wil jy meer hê. ʼn Onversadigbare honger is my liefde vir boeke.

Sonder stilte en rustigheid kan ek nie. Stilte krap nie die gees om nie en skraap jou nie rou nie. Ek is altyd oneindig dankbaar as ek van ʼn inkopietog af terugkeer na my huis. Na die stilte, die kalmte en die rustigheid. Dis my hawe. Dis waar ek geanker word deur my tuin, my musiek en my stilte.

Elkeen moet so ʼn plek hê. Waar jy net kan wees en kan word.

Ja, daar is meer as net hierdie paar groot liefdes vir my. Soos goeie, intelligente geselskap en goeie kos. Maar dit sal ook weer nog ‘n hele bladsy op sy eie nodig kry. Kom ons los dit vir later.

Swaelvlug

Swaeltjie

Die eerste verkenners het laat gistermiddag opgedaag. Hulle het ʼn kort entjie uitmekaar gaan sit en die een heel regs het eerste begin praat. Sy stem was aan my onbekend en dit was by die aanhoor van die vreemde, melodieuse fluit dat ek opgekyk het. Drie van hulle het in ʼn kort rytjie op die telefoondraad hoog bokant die grasperk gaan sit en na die bure se dak gekyk. Ek het asem opgehou, te bang om te roer vir ingeval hulle skrik en soos klein geveerde skaduwees die lug in verdwyn.

Hulle was onmiskenbaar met hul gevurkte sterte. Die eerste swaeltjies het gekom. Dit is te vroeg, het ek gedink op die voorlaaste dag van Januarie.

Het hulle net weer kom kyk of alles nog veilig is by die swerm se bymekaarkomplek voor hul lang vlug na die Noorde? Het hulle dalk kom kyk of hier dalk al ander wag? Maak hulle gereed om te vertrek?

Miskien ons kan ʼn vroeë winter verwag. Die seisoen draai reeds met korter dae en sagte skemer wat smiddae vroeër kom. Sou die eerste kosmos reeds skaam hul pienk en wit gesiggies wys tussen die lang gras?

Hoe mooi is die eindelose kom en gaan van die seisoene; die tydloosheid van  die ewig voorstuwende krag na die afsterwe van hierdie lewe en die daaropvolgende onkeerbare roering van die begin van ‘n nuwe lewe.

En die wonder van lewe en dood, begin en einde inherent in elke lewende wese wat deel is van die Skepping.

Laat ons onthou dat elke oomblik ʼn nuwe begin en die einde van die vorige is, dat elke asemteug ʼn begin en ʼn einde is.

En laat ons mooi oomblikke agterlaat.