Tag Archive | nuutste Rachelle du Bois

DIE VITA FAKTOR

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Daar is so baie werk aan die skryf en uitgee van ‘n boek. ‘n Skrywer moet baie geduldig wees. Niks mag deurgejaag word of half gedoen word nie. Dit vat tyd en geduld voor die boek uiteindelik in die lesers se hande beland. En dan kom die afwagting, die opwinding van iets nuuts, van ‘n nuwe storie met interessante karakters en baie kinkels en draaie voor die verhaal eindelik tot ‘n einde kom. Hopelik is die leser spyt as die einde van die boek op hande is, en nog beter is dit as die leser die boek liefdevol oor die buiteblad stryk en vergenoeg neersit.

‘n Skrywer begeer niks meer  of niks minder nie. Ek hoop dat Die Vita Faktor jou met genoegdoening en tevredenheid sal laat en ook sal laat uitsien na die volgende in Die Faktor reeks. Ek is reeds besig met Die Lucerna Faktor en ek glo jy gaan dit net so geniet soos hierdie eerste poging van my. Die boeke gaan in gedrukte vorm en ook as e-boek beskikbaar wees.

Ek is so bevoorreg om die eerste lesersopinie oor my nuwe WF/Fantasie, Die Vita faktor, hier te kan plaas. Ek sien uit daarna om die proef kopie in my hande te hou. Een van die dae, een van die dae …

Kort Leseropinie – DIE VITA FAKTOR

Ek het onlangs Rachelle du Bois se heerlike debuut-fantasieverhaal, Die Vita Faktor, wat deur Thompson Boekdrukkery uitgegee word, gelees en baie geniet. Die skryfster se verbeelding ken geen perke nie en sy gaan so gemaklik met die genre om dat mens sou dink sy is ‘n ou hand as dit by die skryf van fantasie kom. Dis ‘n voorreg om ‘n fantasieverhaal in Afrikaans te kan lees en ek hoop die skryfster kry die ondersteuning én erkenning wat sy verdien. Ek glo sy gaan ‘n hele klomp aanhangers werf. Ek is ook verheug om te verneem dat Die Vita Faktor die eerste boek in ‘n reeks is. Ek gaan beslis op die uitkyk wees vir die daaropvolgende boeke ook.

Louise Viljoen

 

 

Die Lady en die Leeu

WILD (5)

Die lank verwagte Lady en die Leeu is hier, en ek vlieg hoog vandag. Ek het my mikpunt van twee boeke vir 2015 gehaal. Dis ‘n heerlike gevoel van bevryding en tevredenheid met ‘n taak welgedaan. Dis die verhaal van Madelie en haar Leeu en die fyn voetwerk om die verkryging en die behoud van die liefde.

Sinopsis

Madelie Marais is ’n uitstekende privaatverpleegster wat deur haar Agentskap toegewys word aan ’n welaf pasiënt wat voltydse sorg nodig het. Die voorwaarde is egter dat sy haar intrek onder die dak van die onvoorspelbare en baie aantreklike Pierre du Toit neem.

Daar is egter ’n probleem en dis nie die werk nie. Dis die man, want Pierre lyk nie net soos ’n leeu nie, hy weet ook waarna hy soek – ’n ma vir sy vierjarige seun en ’n vrou vir sy huis. Sy oog is op sy prooi en haar naam is Madelie. Maar hierdie bokkie is vlug van voet en wakker genoeg om nie weer in ’n strik te trap nie. Sy het haar immers een keer in ’n wip laat vang. Maar sy het haar misreken met die leeu en die stryd om behoud van haar hart het begin.

Die boek sal hopelik teen die einde van November in die boekwinkels beskikbaar wees, so hou maar die spasie dop vir die skakels as jy jouself of iemand anders wil bederf vir Kersfees.

Daar is ook heelwat ander e-boeke by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ beskikbaar as jy lus voel om te gaan kyk.

Ek hoor graag wat jy dink van die omslag? Ek het ‘n soektog gehad na iets wat sal pas by die storie en hierdie een het vir my goed gelyk. Hoe voel jy daaroor?

Gesels gerus saam op Facebook of op Twitter by @RachelleRomance

Resensies:

“Hierdie lekkerlees verhaal gaan beslis baie harte steel. Dis ’n pragtige, pragtige boek.”

Louise Viljoen

“Dis ’n baie, baie goeie boek. Die karakters is goed ontwikkel en die verhaal is goed geskryf en lekker om te lees.”

Johan Beukes