Tag Archive | Plek van die Flaminke e-boek

Heel nuut: Inge

Inge Kindle Cover f47e8290-c806-45cf-ac43-6f9e7b6ad723[1]

My sewende boek, Inge (‘n liefdesroman), is nou beskikbaar. Ek het hierdie boek lank teruggehou, maar het tog besluit om haar nou te laat gaan. Dis ‘n pragtige liefdesroman oor twee mense wat saamgegooi word in omstandighede wat hulle nie begryp nie. Inge Bergh vind op ʼn dag ʼn ander teenwoordigheid by haar spesiale wegsteekhoekie in die tuin. Dis haar fontein en haar plek waarheen sy kom om te droom, te lees en die stilte op te soek. Sy deel dit met niemand nie. Wat kom soek die vreemd teruggektrokke André Grobler dan skielik hier in haar heiligdom? Hoekom is hy hier waar sy is, nag na nag? En hoekom kan sy nie wegbly nie – wat is dit wat haar snags hierheen bring, net om hom hier te kry? Die antwoord op hierdie vraag word vir hulle duidelik toe die stem van die stilte eindelik harder spreek as hul teenkanting teen mekaar. Eers toe hulle besef dat die antwoord waarvoor André in die stilte soek, reeds daar is, kom ook die besef dat die stem van die liefde die sagter een is, maar aanhoudend en smekend roep tot die hart die fluistering in die stilte herken. Die liefde laat hom nie aanjaag nie, en laat hom nie uitsluit nie, al druk jy jou ore toe en al sluit jy jou oë daarteen.

Hierdie mooi boek is nou by Amazon.com beskikbaar by die volgende skakel:

http://www.amazon.com/s/ref=nb_sb_noss?url=search-alias%3Dstripbooks&field-keywords=Rachelle+du+Bois+Inge&rh=n%3A283155%2Ck%3ARachelle+du+Bois+Inge

My liefde vir romanse

dc9ecf6c-371a-4a8a-8542-d637aa725985[1]

Ek is mal oor romanse. Hoekom? Omdat almal een of ander tyd liefkry, en omdat ons tog almal daarna hunker om deur iemand liefgehê te word. Al is dit net een keer in ons lewe. Om lief te hê en bemin te word. Daardie iets wat liefde genoem word, en wat tog so moeilik is om vas te vang en aan te keer.

Wie wil nie tog vir ‘n uur of wat ontvlug van die werkliheid en heerlik terugsak met ‘n mooi liefdesverhaal nie? ‘n Mooi storie oor ‘n held en heldin wat ontmoet en die vonke spat, die elektrisiteit blits, die aantrekkingskrag is oombliklik. En dan kom die weerstand teen hul lotsbeskikking, die ontkenning, die herkenning van die ander, die eierdans rondom mekaar, die leer ken, die misverstand, die eerste soen, die aanraking wat die asem laat wegslaan. Dan besinning, ontkenning, misverstaan, verlies en pyn. Tot die hart en die lyf nie meer kan weerstand bied teen die betowering van die liefde nie, en die hartstog en die passie smeul, uitbars, en vlam vat. Die gelukkige einde laat mens altyd met ‘n gevoel van tevredenheid dat die twee mekaar uiteindelik gevind het.

Die heldinne in my tweede boek, Maalkolk, is sterk vroue, maar verwond en bederf. Die pragtige Adele is die enigste dogter en sy draai haar pa om haar pinkie, tot die sexy Francois op die toneel verskyn. Die karakters is mense wat ons ken, dis mense  wat in vandag se tyd in ons land lewe. Ek het verlief geraak op Francois, op sy styl, sy selfvertroue, sy volharding en ek weet van die mans in ons lewens wat so sterk en so vasbeslote aanhou om te kry wat hulle wil hê. Die liefde laat jou aanhou probeer, aanslag na aanslag loods op die geliefde se hart, soos Francois met Adele gedoen het. Haar selfvertroue en haar trots kry ‘n knou, en sy leer ‘n duur les. Die liefde laat hom nie voorskryf nie, en die pad van jou lotsbeskikking is nie altyd met rose besaai nie. Sy moes kies om te vergewe en om haarself te leer ken. Ook Francois moes leer om te veg vir die liefde van hierdie jong vrou wat haar hart so beskerm.

Dan vertel Madri en Deon hul storie. Madri is ‘n teer blom, ‘n geknakte blom en Deon sien haar en weet hier lê werk voor, maar hy is bereid om te waag. Hy kry haar lief, maar die geheimsinnige Alex kom staan tussen hulle. Sy pyn dryf hom amper van haar af weg, tot hy haar toelaat en help om weer te lewe, voluit te lewe en lief te hê. Hulle het mekaar herken en geweet: dis die een. Sy moes leer om hom te vertrou met haar pyn en hartseer, en die liefde maak dit eindelik vir haar moontlik.

Die liefde maak heel, vertroos, vertroetel en bevry. Dis hoekom ek liefdesverhale skryf. Omdat die liefde alles oorwin.

Hierdie mooi boek is beskikbaar by Kalahari.com, Amazon.com en eReads. Lees dit gerus en laat my weet wat jy dink. Dit was vir my so lekker om die boek te skryf, want ek het saam gelag en gehuil, saam gelewe en gelief.

Kontak my gerus by racsmo2011@gmail.com

Volg my op Twitter

Hou van my op Facebook

Hou van my blad en klik die regmerkie.

Volg my as jy wil. Daar’s vreugde in.

Rachelle du Bois

Storieverteller

canstockphoto7959079

Ek is ‘n verteller van stories, nog nie ‘n volwaardige, professionele skrywer van boeke nie.

Ek wil so graag ‘n skrywer wees, maar ek is nog nie een nie, so verstaan ek, al het daar reeds agt boeke uit my pen voortgekom.  Al het ek reeds vyf van my stories self gepubliseer en uitgegee.

‘n Skrywer, ‘n rêrige, vaardige skrywer, wat goeie boeke skryf, is iemand wat voel, wat die held of die heldin word. Hy/sy vertel nooit ‘n storie nie. Die storie word geleef, asof die skrywer die held of heldin is. Ek het probeer, dit gaan al beter, maar ek is nog nie daar nie… Boeke waaruit ek moet leer hoe om te skryf, is op pad, en ek byt vas, al vlieg die tyd skrikwekkend vining by my verby.

En as jy romanse skryf, moet jy nie te diep onder die oppervlak delf nie – moenie boeke skryf met diepte, of wat vandag se lewe vertel soos dit is nie. Skryf oor mooi goedjies – bolangs. Dit kan ek nie doen nie, want ek het ‘n storie om te vertel, oor die lewe, oor die mense, oor die pyn, en swaarkry en lag van gewone mense. Ek kan nie oppervlakkig skryf nie – daar moet altyd pitkos wees, vir die skrywer en vir die leser.

Ek het van Oktober, 2013, agt boeke geskryf. Ek het ure, dae, maande, voor my rekenaar gesit en die lekkerste, lekkerste ding gedoen wat ek nog ooit gedoen het. Nie een enkele dag het ek gewonder wat volgende in die storie gaan gebeur nie. Ek het GEWEET. En ek het dit so vertel.

Daarom deel ek graag my pennevrugte met julle, al is ek nog nie ‘n gerekende skrywer, met goeie literêre werke onder die blad nie. Al vertel ek nog. (En wat meer is, ek vertel so lekker!)

Kom lees saam met my, lag saam en huil saam as dit moet. Ek het. Terwyl ek geskryf het.

As ek eendag groot is, dan sal die groot en bekende uitgewers my boeke uitgee en sal lesers my boeke by die groot boekwinkels op die rakke sien.

Tot dan wil ek steeds my vreugde deel, op die enigste manier wat ek weet hoe. Deur self te publiseer – e-boeke by Kalahari.com (e-boeke en harde boeke van Maalkolk en Die Lied van Lorelei), en by Amazon. com. Gaan kyk daar, ook vir die drie nuwes wat gister bygekom het – Mari, Maandanser en Plek van die Flaminke (die volledige storie) wat tans as vervolgverhaal hier aangebied word.

Geniet dit, en laat van julle hoor.