Tag Archive | smart

Daar kom ‘n tyd

canstock17293369[1]

Soms klap ʼn deur wat eens oënskynlik wyd oop was, hard toe. Dan staan jy radeloos en rondtrap, partykeer vererg oor wat besig is om te gebeur, en ander kere moedeloos tot in jou skoensole. Alles het dan so goed begin; jy was vol moed en seker dat jou drome en jou lewe gaan vloei soos jy dit beplan het. Soos jy gevra en gesmeek het. Jy het so hard gewerk en tog dit het alles tot as verbrand. Jy kan en wil nie glo dat dit so kan voortduur nie, daarom byt jy vas, probeer weer en weer. Bestorm die toe deur verwoed met dieselfde wapens net om agter te kom dit bly onbeweeglik TOE. Agter jou lê reeds verwoesting, pyn en seerkry. Jy soek verward na uitkoms, weereens smekend op jou knieë, maar daar kom geen antwoord nie. Dit bly donker. Jou trane vloei, angs en siekte betrek jou en breek jou verder af.

My liewe leser, daar kom ʼn tyd in elke mens se lewe dat jy moet terug staan en bestek opneem van wat jy sien; word stil, kyk en dink mooi waarheen jy op pad is as jy bly waar jy is. Is jy hoegenaamd op pad na beter gesondheid, ʼn gelukkige huwelik, ’n gesonde liefdesverhouding, ʼn suksesvolle beroep? Sien jy kans vir nog van dit wat na jou kant toe gekom het? Hoeveel daarvan het jy self oor jou pad gebring? Hoeveel daarvan kan jy nog regstel? Hoeveel is nog vir jou moontlik? Hoeveel kan jy nog verduur?

Pluk die skille van jou oë af en sien die ander deure wat vir jou oop staan. Kyk na die ander geleenthede wat uit die as van jou drome te voorskyn gekom het. Dink daaraan dat jy eers soos saad moet sterf voor jy weer kan ontkiem en nuut lewe. Jy kan nie bly waar jy is nie, want dan kan jy nie word waarvoor jy bestem is nie. Jy is nie bestem om mank en seer voort te ploeter in dieselfde groef sonder enige vooruitsig dat daar iewers iets beter gaan kom nie.

Jy kan nie ander resultate verwag as jy oor en oor dieselfde metode volg nie. Hou op om die slot van die toe deur te probeer afkry. Besluit dis nou genoeg.

Die keuse is joune. Jy is geskep met ʼn vrye keuse. Oorweeg die voor-en die nadele van verskillende opsies en maak jou besluit. Dinge gebeur nie vanself nie – jy moet dit maak gebeur. Maak jou vandag los van die sagte kettings van manipulasie, van aangeleerde hulpeloosheid. Hou op vasklou aan gister se seerkry en draai weg daarvan. Besef jy is nie hulpeloos nie, jy is nie ʼn gebruiksartikel of ʼn vloermat nie. Besef jy is ‘n wonderbaarlike, kreatiewe skepsel met verbeelding en hou op rondtrap in die as van gister. As jy daar bly gaan jy môre nie sien nie.

Wees dapper genoeg en draai weg. Kyk nou vorentoe en stap in by die ander deur wat vir jou oopgegaan het. Hy is daar. Begin voor as jy moet, begin oor as jy moet. Of kies om te bly in die miserabele hede en vat wat na jou kant toe kom.

Die keuse is altyd joune.

Rachelle

Elke nuwe begin

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Om weer aan die gang te kom aan die begin van ’n nuwe jaar, is ’n groot uitdaging vir sommige en ’n groot verligting vir ander. Na die lang skoolvakansie en die kans om weg te breek en te gaan uitspan op ʼn ander plek as by jou huis – dis te sê as jy gelukkig genoeg is om dit te kan doen – is dit amper ʼn skok om weer tuis te kom en van vooraf te begin hardloop om alles reg te kry vir die komende skooljaar, en ook om weer die leisels op te tel by die werk.

Vir sommige is dit ʼn verligting om weer tuis te wees na die malligheid van die feesseisoen. Of om tuis te wag dat die tydperk oor die einde van ʼn ou jaar en die oorgang na die nuwe tog net verby moet gaan.

Almal is nie altyd ewe opgewonde oor die feestyd nie, want vir party is dit ʼn tyd van seerkry, verlies, pyn en trane. Van iemand onthou wat weggegaan het of skielik deur die dood weggeruk is.

Ek gaan hierdie nuwe jaar in met die besef dat ek ʼn geleentheid het om weer ʼn nuwe begin te maak. Nie net met ʼn nuwe jaar nie, maar met elke dankbare asemteug begin ek nuut. Elke oggend wink en elke aand skitter van belofte. Daarom gaan ek die tyd gebruik om my lewe in te rig met alles wat skoon en mooi is.

Dis tog binne my bereik om dit te kan doen.

Om die skoonheid van die natuur te waardeer, die verfrissing van water, of ʼn geurige blom. Ek gaan ʼn punt daarvan maak om bewustelik elke klein plesier en vreugde raak te sien en te koester. Op hierdie manier sal ek my lewe volmaak, ten spyte van dit wat bedags by die werkplek, of op die pad, of waar ookal, gebeur. Ek gaan doelbewus soek na vreugde te midde van die chaos van die lewe.

En ek sal weet dat die oplossing vir elke probleem reeds in aantog is en spontaan sal verskyn wanneer die tyd ryp is. Ek onderneem om niks vandag te oordeel nie, om tyd te maak om in die natuur deur te bring om die intelligensie en die wonder van die lewe te ervaar.

Ek sal vandag die lewe se goeie en mees kosbare gawes gee: vriendelikheid, deernis, omgee, geld, kos, ʼn glimlag, ʼn seën, ʼn gebed, ʼn blom. Ek sal dit weer met dankbaarheid uit die hand van die lewe ontvang en so die ewige siklus van gee en dankbare ontvang in stand hou.

Ek sal vandag my keuses oorweeg en luister na my hart om te bepaal of ek myself of iemand anders skade gaan berokken of seermaak met wat ek kies om te doen of dink, want wat ek saai sal ek maai. Dit is die wet van oorsaak en gevolg en dit wat jy dink en doen, sal na jou terugkom in gelyke maat.

Ek sal mense, dinge, situasies, omstandighede en gebeurtenisse aanvaar net soos dit is op hierdie gegewe oomblik, sonder om my daarteen te verset of in opstand te kom, want ek weet dat dit is soos wat dit moet wees – nou. Ek gaan nie veg of weerstand bied teen iets wat ek nie kan verander nie. Ek sal geduldig wag vir die oplossing om spontaan te voorskyn te kom sodra die tyd ryp is.

Ek sal verantwoordelikheid vir my eie situasie aanvaar en niemand beskuldig nie, want dit is soos dit is, en die oplossing vir die probleem is reeds in aantog te midde van die chaos. Dit weet ek verseker, want ek het dit gesien.

Ek gaan niemand van my standpunt probeer oortuig, dit regverdig, of dit verdedig nie, want ek weet dat elkeen geregtig is om te wees wie hy is, of om sy lewe te kies soos hy dit wil sonder dat ek hom in ʼn rigting wil dwing. Ek sal kyk en leer uit die onbeperkte opsies wat aan my voorgehou word en my eie keuse maak sonder om ʼn ander te benadeel.

Ek sal my eie hartsbegeertes oordink en dit oorgee aan die vrugbare oneindigheid om dit vir my te bring, weer en weer. In hierdie klein hande sal die oorvloed gegee word om weer uit te deel. So sal ek skoonheid skep vir myself en vir ander.

Ek sal onsekerheid in my lewe toelaat en die wysheid van die onbekende omhels. Ek sal my losmaak van gister en môre, en hierdie oomblik omhels met al die opgewondenheid en wonder van ʼn kind, want wie weet wat wag nou vir my in hierdie opwindende minuut, uur, of dag.

Ek sal vandag die mensdom dien deur aan hulle my boeke te bring. Al die lewe se vreugde, lag en trane, al die lief en leed, die romanse, hartstog en liefde van die hart. Ek sal met hulle die waarheid en wysheid deel soos ek dit verstaan.

En ek sal liefde gee waarvan my hele hart so vol is. Daarom, liefde en vreugde en seën vir julle!

Rachelle du Bois

 

 

 

Die liefdes en leeslus van die 2014 vrou

 

Loving couple canstockphoto7371359

Toe ek so veertien-vyftien jaar oud was, ontdek ek vir Tryna du Toit, en Groen Koring vang my onkant. Ek is vir ewig verander deur hierdie boek oor die ongetroude, swanger Debbie wat Leon se kind dra. O, die skok daarvan, die skande daarvan, maar die mooi van die boek en die pragtige storie dryf enige vooroordeel uit hierdie jong meisie se gedagtes. Net die jammerte bly oor, en die soeke na nog boeke, nog soortgelyke liefdesverhale. Ek ontdek die liefdesromans van Susanna M Lingua, MER, Sara Dupisani, Ettie Bierman, en nog baie ander skrywers soos hulle, ek lees die pragtige boek Bloureën, waarvan ek die skrywer se naam nie kan onthou nie, en ek huil die hele nag om.

Ek ontdek vir Elmar Steyn met sy ou Kaapse verhale en sy Franse adellikes, en sou ek aanhou opnoem, sal die name van die skrywers en boeke bladsye vol beslaan.

Sonder uitsondering is die heldinne vroulik, godsdienstig, getroue eggenote en mammas, of jong onskuldige meisies wat verlief raak op ʼn onaanvaarbare man, wat nie goed genoeg is nie, of te wild is, of met haar mors. Sy bly egter sterk, sonder uitsondering sag en vroulik, en sy bly tuis om haar smart te oorkom.

Sommige, maar min van die karakters in die verhale, is ʼn paar wilde meisiekinders, dis nou die gewilliges wat die seuns agter die skool ontmoet, rook in die skool se kleedkamers, en vroeg skool verlaat as hulle swanger raak, maar die res is stroop, soos die sosiale verwagtinge vir ʼn goeie boek bepaal.

Die liefde en die romanse blom wit, en ek lees alles waarop ek my hande kan lê, Afrikaans en Engels. Ek lees honderde Mills & Boon boeke en die heldinne is vroulik, verleidelik en meer liberaal as ons Afrikaanse heldinne, maar dit bly ʼn opwindende ervaring, en ek verwonder my oor die Engelse so anders is…

Saam met ons, nou jong vroue en meisies, groei en verander ons liefdesverhale en ons heldinne om aan te pas by die sosiale opset van ons tyd. Ons heldinne is steeds kuis en tuis, en maak kinders groot, drink tee by die kerk, en sorg dat almal by die huis is as pa van die werk af kom. Ons heldinne trou om te hou, en van los en vas is daar nie sprake nie. Ons heldinne gaan kerk toe, werk toe, skool toe en huis toe.

Later jare kry ons die geleentheid om universiteit of onderwyskollege toe te gaan, en raak verlief en trou steeds, begin met gesinne, laat vaar ons werk en beroep, en hou huis. En ons lees liefdesromans tussen kinders grootmaak en huishou, ons ontsnap vir ʼn paar ure en ons word die pragtige heldin, en beleef die ontknoping van die romanse tussen haar en die aantreklike, sterk held wat haar red van een of ander krisis.

Die kern van ons liefdesromans van vroeër jare is steeds dieselfde in 2014, maar saam met sosiale en politieke verandering, word ons heldinne weereens vroue van ons tyd. Ons is werkende of professionele beroepsvroue, onafhanklik, modern, besit ons eie huise en bestuur ons eie besighede, is tegnologies bedrewe, ry vinnige motors, neem ons eie besluite, en deel ons lewens en ons lywe met die persoon van ons keuse, sonder om aan ons te laat voorskryf of skuldig te voel. Ons is eggenote, minnaresse, mammas, oumas, susters, dogters, vriendinne. Ons gee om vir mekaar, en ons lag en huil steeds saam met mekaar. En ons het lief, en bemin hartstogtelik met oorgawe en vrymoedigheid.

Ons bly steeds romantiese wesens, liefdesdromers, en ons lees steeds die liefdesromans van ons tyd, ons meisies en vroue se stories, in ons mooi taal.

Dis waarom ek skryf. Om ons stories in Afrikaans te vertel; die stories van ons moderne vroue se lewens en liefdes, van ons drome oor wat kan wees. Ek vertel die verhale van ons smart en vreugde, en die soms onsinnige, lagwekkende goed wat met ons as vroue gebeur.

En ek saai ʼn saadjie van hoop, maak vir ʼn tydjie ʼn venster oop vir ’n blik op die hart en lewe van ons vroue, sodat ons weet ons is nie alleen nie.

En die liefde bly deur al die jare dieselfde, net soos die hart van ʼn vrou.