Hoe om jou boek self uit te gee

Think Possibilities 10491994_571903722914001_6734294162770169401_n

Jy het jou boek klaar geskryf en jy het besluit om dit self uit te gee. Jy gaan nie die tradisionele roete volg deur dit na ʼn uitgewer te stuur vir publikasie nie.

Hoe gaan jy te werk? Besluit eers of jy dit in e-boek vorm of harde boeke wil uitgee.

e-Boeke:

– Dit kos niks om e-boeke self uit te gee nie, afhangend van hoe jy te werk gaan.

– Dis vinnig, maklik en gerieflik

– Jy kan self jou boek in e-boek formaat omskep. Daar is spesifieke riglyne daarvoor.

– As jy jou e-boek by Amazon.com wil plaas verskyn dit binne 12 uur reeds in hul winkel.

– Daar is webwerwe by wie jy gratis jou boeke kan lys en hulle versprei jou e-boek na al die groot boekwinkels in Suid-Afrika. Dit sluit winkels soos Takealot (voorheen Kalahari.com), Leserskring, Leisure Books en Exclusive books in. Daar is van hulle wat ook jou boek lys en dit vanaf hul webwerf verkoop. Jy hoef niks te doen behalwe om jou manuskrip in die regte formaat aan hulle te stuur nie. Dit neem ongeveer een tot twee weke vir jou boek om op die winkelrakke te verskyn.

Harde boeke

–        Dit is duur om harde boeke te laat druk.

–        Iemand moet die boek gereed kry vir die drukproses. Tensy jy self weet hoe om dit te doen, sal jy iemand moet betaal om die uitleg te doen.

–        Die boeke moet versprei word na boekwinkels.

–        Boekwinkels aanvaar nie boeke wat onafhanklik uitgegee word nie, veral as dit onbekende skrywers is. Hulle werk slegs deur groot verspreiders soos On The Dot en hulle versprei nie minder as 500 boeke nie. Hulle werk nie met individuele skrywers nie.

–        Om self uit te gee sluit bemarking en verspreiding in. As jy die boek laat druk, sal jy dit self moet versprei. Is jy bereid om die ekstra tyd en geld aan bestellings en posgeld te spandeer?

-Vra jouself die vraag: wat gaan met die harde boeke gebeur as jou boek nie verkoop nie?

Die voorblad

Jou boek moet ʼn aantreklike naam en voorblad hê. Jy kan jou eie voorblad ontwerp of jy kan iemand betaal om dit vir jou te doen. Amazon.com laat jou toe om jou voorblad op KDP (Kindle Direct Publishing) te ontwerp, maar wees bewus van hul reëls en regulasies. As jy verkies om dit self te doen kan jy gratis by Canva.com jou eie voorblad ontwerp en dit ook op Amazon.com gebruik.

Die agterblad teks of lokteks

Dit is die kort beskrywing waarmee jy lesers lok om jou boek te koop. Dit moet kort en skerp wees en hard slaan. Gaan kyk na topverkopers se agterblad tekste vir idees.

Bemarking

Jy sal ʼn voltydse bemarkingsveldtog moet loods. Hiervoor het jy die volgende nodig:

  1. Jou eie webwerf/blog. Jy kan dit gratis self ontwikkel deur WordPress.com. Gaan kyk gerus na myne by http://rachelledubois.com vir ʼn voorbeeld.
  2. ʼn Facebook blad – moet nie te veel verwag van FB nie, tensy jy dit reg van die begin af as jou professionele blad gevestig het. Mense kuier eerder graag op FB.
  3. Twitter
  4. LinkedIn
  5. Google+

Geloofwaardigheid

Die kwaliteit van jou werk moet onberispelik wees. Onafhanklike skrywers in Suid-Afrika se geloofwaardigheid en sukses hang af van die kwaliteit van hul werk. As daar konsekwent goeie boeke en skryfwerk van hoë gehalte gelewer word is dit moontlik vir onafhanklike skrywers en self-uitgewers om sukses te behaal.

Jy moet toegewy wees aan jou skryfwerk. Jy moet leer en lees en skryf, skryf, skryf. Hoe meer boeke jy daar buite het, hoe groter is die kans dat jy lesers sal lok.

Laat jou boek professioneel proeflees of redigeer as jy dit kan bekostig. Die gemiddelde prys van ʼn professionele redigeerder is ongeveer R12.00 – R14.50 per bladsy. As jou manuskrip 60 000 woorde lank is, kan dit baie duur word.

Hiermee kan ek jou help deur jou boek te beta-lees, proeflees of te redigeer. Vir meer inligting kan jy my webblad besoek by https://rachelledubois.com/vryskutskryfwerk/

Gaan jy ryk word hieruit?

Moenie uit jou werk bedank om voltyds te skryf nie, tensy jy reeds baie goed gevestig is as suksesvolle skrywer. Jy moet bereid wees om te skryf vir die liefde van die saak. Dis ʼn geweldig kompeterende mark en daar is miljoene boeke en skrywers wat om ʼn plek meeding. Tensy jy daarin slaag om ʼn uitstaande boek te skryf en jou bemarkingsveldtog fantasties is, moet jy jou klaarmaak vir ʼn lang pad vol slaggate.

Hoekom ek besluit het om die roete te volg

Ek hou van die onafhanklikheid wat met die self-uitgee van boeke gepaardgaan. Ek kan self besluit wat ek wil skryf, hoe ek wil skryf en teen watter pas ek wil skryf. Dis uiters bevredigend om my boeke op die e-boek winkelrakke te sien en te weet: ek het dit gedoen.

As jy verkies om op jou eie te werk, is hierdie die roete vir jou.

Kontak my gerus by http://rachelledubois.com vir meer inligting en gaan loer by https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/ in om te sien wat gedoen kan word.

As jy enige voorstelle of vrae het wat ander skrywers kan help, stuur dit vir my aan. Die een hand help die ander en so kom ons almal bo.

Advertisements