Hoe om jou boek te bemark

3628364581429334064[1]

Jou boek is by die boekwinkels en nou moet dit bemark word. Niemand gaan die boek koop as hulle nie daarvan weet nie. Bekende skrywers begin hul boek bemark voor dit klaar geskryf is. Dit dwing jou om die boek te voltooi en sal moontlike lesers waarsku dat dit aan die kom is. Vir ’n eerste poging is dit egter anders.

Jy gaan self ’n bemarkingsveldtog moet loods, en wees maar bereid om heelwat tyd hieraan te bestee.

Ek stel die volgende voor:

  • Begin jou eie blog of webwerf (ek weet nou nog nie wat die verskil is nie). Dit gaan jou geld kos, want jy moet registreer en ’n domein bekom. As jy dit nie self kan doen nie, gaan dit jou meer geld kos, maar dit is die moeite werd, want dit is waar jy jouself en jou boeke bekend gaan stel. Mense wil weet wie jy is en hulle wil oor jou en jou werk lees. Jou webtuiste sal jou in staat stel om inligting te deel en jy kan dit begin lank voor jy jou eerste boek klaar geskryf het. Woes kan hier baie help, want as jy as Premium+ lid registreer kry jy ook ʼn webwerf. Dis ook hier waar jy die skakels na die boekwinkels waar jou boek te koop is plaas saam met ‘n kort beskrywing en die voorblad van jou boek..
  • Gebruik LinkedIn as bemarkingsvoertuig. Dis heeltemal gratis en het geweldige reikwydte.
  • Skep vir jou ’n gratis professionele Facebook profiel. As jy reeds op Facebook is en resepte en geselsies deel, gaan dit nie werk nie. Jou vriende neem jou nie ernstig op nie. Hulle wil eerder weet wat jy die naweek gedoen het.
  • Begin jou nuus gratis op Twitter deel en heg ’n skakel aan na jou webtuiste, Facebook en LinkedIn. Moet nooit negatiewe goed oor ander skrywers op Twitter – of enige ander sosiale platform – kwytraak nie; dis uiters onprofessioneel en kan jou beeld skade aandoen.
  • Registreer gratis by Google+ en begin om vir jou ’n netwerk te bou. Jy kan hier gratis adverteer.
  • Jy kan ook deur Google Adwords ’n advertensieveldtog begin, maar dis duur.

Wees baie versigtig om sommer almal voor die voet as vriende te aanvaar. Lees eers oor hul agtergrond en kies mense wat binne die skrywers- en lesersgemeenskap val.

Bemarking neem ongeveer 30 – 50% van jou dag in beslag, so wees voorbereid om toegewyd te wees hiermee. Onthou dat bemarking daarop uit is om mense so lus te maak om jou boek te lees dat hulle voel hulle moet dit net koop.

Daar is baie goeie leesstof oor bemarking. Gaan soek self wat vir jou gaan werk en probeer dit, maar moenie tyd mors as iets nie vir jou werk nie. Wees slim genoeg om te laat gaan wat nie werk nie en jou tyd liewer aan effektiewe bemarkingsmetodes te wy. Nie alles wat ek hierbo genoem het, gaan dieselfde resultaat lewer nie. En jy gaan nie oornag bekend en beroemd word nie. Dit vat baie tyd, baie toewyding en baie, baie geduld.

Moenie opgee nie. Jy kan.