Jou boek is nou klaar geskryf, maar . . .

Snail 10470891_841198432622509_2594558303180483519_n

Hoe nou verder?

Daar lê nou groot werk voor, want jou manuskrip moet nou gelees word – weer en weer en weer. Daar moet gekyk word na die afronding van jou storie. Jy gaan heel moontlik die eerste persoon wees wat die storie gaan lees na jy dit vir ’n ruk laat rus het. Dis belangrik dat jy dit doen met die oog op regstellings en verbeterings aan die manuskrip.

Ek stel voor jy gaan die manuskrip met ʼn fyn kam deur:

  • Soek vir taal- en spelfoute met jou woordeboek in jou hand. Gebruik jou speltoetser op jou rekenaar. Vra iemand anders om dit ook te lees.
  • Soek na storie gate en kyk na konsekwentheid, met ander woorde jou storie moet vloei, daar moenie vrae by die leser wees oor hoe die held of heldin dit of dat weet nie, hoe hy of sy daar of hier gekom het nie. Jou karakters se name moet dwarsdeur die storie dieselfde bly – moenie begin met Belinda Nortje en eindig met Belinda Swart nie . . .
  • Let op die sinstruktuur – kan jy die sin beter laat klink deur die woorde andersom in te span? Is daar ʼn ander woord of woorde wat jy kan gebruik? Het jy dieselfde woord meer as een keer in ʼn paragraaf gebruik? Is daar ʼn ander woord wat jy in die plek daarvan kon gebruik?

Belangriker nog, verstaan jy wat jy wil sê in die sin of paragraaf? Het jy die regte woorde gebruik?

  • Konsekwentheid in die karakters se optrede. Jy kan nie ʼn sagmoedige karakter skielik woedend en aggressief laat optree nie; of ʼn aggressiewe karakter mak soos ʼn lammetjie laat voorkom nie. As jou hoofkarakter sterk is, moet hy/sy sterk optree dwarsdeur die boek. Is jou heldin se oë nog dieselfde kleur as of het dit van blou na bruin verander deur die loop van die storie? Is haar hare nog blond of is sy nou ’n donkerkop? As sy van haarkleur verander het, het jy dit iewers in jou storie genoem?
  • Karakterontwikkeling – het jou hoofkarakters deur die storie gegroei en verander? Wat het hulle geleer? Hoe het hulle verander? Is hulle ander mense as wat hulle aan die begin van die storie was? Hoekom het hulle gedoen wat hulle gedoen het? Wat het hulle gedryf en watter probleme moes hulle oorkom? Waaroor dink hulle, waaroor praat hulle, waarvan hou hulle en waarvan hou hulle nie?
  • Dialoog: Daar is ʼn verskil tussen gesprek en dialoog as jy ʼn boek skryf. Dialoog neem jou storie vorentoe. Die karakters praat met mekaar met ʼn doel. Moenie onsinnige, doellose gesprekke insluit nie. Elke woord wat jou karakters sê, moet tel.
  • Voorstorie/agtergrond – Jou storie speel iewers af, en jou karakters kom iewers vandaan. Dit het hulle gevorm en gemaak wat hulle tans is. Maak seker dat die leser sal weet waar en wanneer die storie hom afspeel. Doen navorsing op die internet oor die plekke waaroor jy skryf. As dit teen ʼn historiese agtergrond afspeel, kan die karakters nie in vandag se taal met mekaar praat of in vandag se kleredrag aantrek nie.
  • Wys vs. Vertel – Moenie die storie vertel nie, maar wys eerder deur aksie hoe die held/heldin voel en wat hulle doen. Bring dialoog, beweging en aksie in:

o   Hy trek sy hand moedeloos deur sy hare en frons vererg.

o   Hy stap haastig weg en keer net betyds met sy hand toe die deur terugswaai en hom amper in sy gesig slaan.

o   Sy swaai woedend om en los die deur dat dit hard agter haar toeklap.

o   Sy stap met ʼn swaai van haar heupe weg en ʼn loer vermakerig oor haar skouer. Haar skoen hak aan die sypaadjie vas en sy voel hoe sy deur die lug trek. Sy beland hard op haar rug en sukkel om asem te kry . . .

  • Korreksies – soek vir spel- en taalfoute en maak reg. Soek na woorde wat uitgelaat is – jy sal verbaas wees oor hoe baie dit gebeur dat ʼn woordjie soos as/hy/sy uit ʼn sin weggelaat word.
  • Maak seker dat jou karakters nie vooruit dink of sien nie. Hulle kan net sien, hoor, voel, proe en ruik wat hulle nou self ervaar. Hulle kan nie in ʼn ander karakter se kop inklim en namens hulle sien en voel nie – dan vertel jy i.p.v. wys. Elke karakter moet sy eie storie leef en sy eie plek en tyd hê.

Volgende week: Die voorbereiding van jou boek vir die uitgee daarvan

Advertisements